Een van die kragtigste dinge tot ons beskikking is woorde. Woorde is heilig. Ons woorde skep die realiteit waarbinne onsself en die mense na aan ons gaan lewe.
Woorde kan ‘n wêreld van aanvaarding en deernis en begrip skep. Woorde kan ‘n wêreld van vrees en verkleinering en “invalidation” skep. Woorde kan twyfel saai. Woorde kan vertroosting bring. Woorde kan iemand se interne wêreld in puin laat. Woorde kan illusies en lugkastele bou wat later in vlamme opgaan. Woorde kan mense gevange hou.
Woorde kan mense vrylaat.
Net soos met verhoudingsvaardighede is ons gelowige mense dikwels skrikwekkend sleg met kommunikasievaardighede.
Ons weet ons wil iets sê, maar sê dit nie, want ons weet nie hoe nie. En dan op ‘n dag sê ons dit wel en dan kom dit so skeef uit dat ons wens ons kon dit “ont-sê” – maar helaas. Tussen te maklik en te vinnig praat en te lank stilbly en binne hou lê daar baie lyke.
Ons dink soms dat ons goed doen deur eerder stil te bly. Ons doen ongelukkig nie. As ek iets genoem het, het ek ‘n lig daarop geskyn en iets wat tot op daardie oomblik in die skadu’s rondgehang het in realiteit ingeroep. Maar die vraag is: Hóé sê ek dit?
Ek het al gehoor hoe mense sal sê: “Wees net eerlik”. Dit is nie so maklik nie. So sou mens die onderskeid kon maak tussen brutale eerlikheid en oneerlike diplomasie.
Sommige van ons is so eerlik dat ons eerlikheid wapens word. Richard Needham sê: “People who are brutally honest get more satisfaction out of the brutality than out of the honesty.” Ander van ons probeer weer so diplomaties wees dat ons eintlik oneerlik is.
Iewers tussen die twee lê ‘n benadering wat ons dalk sagmoedige eerlikheid of respekvolle eerlikheid – of selfs heilige eerlikheid – kan noem.
Daar is ook die van ons wat met ons woorde mors, deur soveel woorde te gebruik dat mense nie meer hoor wat ons sê nie. Ons maak ons woorde goedkoop, juis omdat ons te veel en te maklik praat en nie ons woorde as heilig sien nie. Ons beskik nog nie oor die wysheid van woord-ekonomie nie.
Ander van ons is weer so suinig met ons woorde dat ons ons mense in die ysige koue laat van ‘n landskap waar die afwesigheid van ons woorde soos ‘n koue wind om die hoeke huil. Ons woorde is so dun en so min dat ons die mense in ons lewe beroof van die rykdom wat deur ons woorde na die verhouding sou kon kom.
Ons woorde is veronderstel om ‘n warm, veilige huis te wees, waarbinne die mense om ons kan skuiling vind teen die wind en waar ons woorde soos ‘n sagte kombers om ander vou, omdat ons besef dat woorde heilig is.
Ons mense is die enigste spesie op die planeet wat woorde gebruik om te praat. Die dag toe jy begin praat het is daar ‘n kosbare skat aan jou gegee. Jy het die kurator van ‘n skatkamer vol woorde geword. Mag jy nooit vergeet wat ‘n heilige taak dit is nie, want woorde skep werklikhede.
Kommentare