top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Die kruis in die bome

Wanneer ‘n mens oor die woud naby Killea in Donegal, Ierland vlieg sal jy sekere tye van die jaar ‘n reuse Keltiese kruis in die dak van die bome sien. Dit staan bekend as die “Emery Celtic Cross”. Die bosbouer Liam Emery, het hierdie Keltiese kruisontwerp in die vroeë 2000's naby Killea, in Donegal, met baie toewyding, vaardigheid en geduld geplant. Emery het twee verskillende soorte bome gebruik om die effek te skep, wat ongelooflike beplanningsvaardighede moes verg.


Ongelukkig is Emery in 2010 dood nadat hy breinskade opgedoen het en dit was eers in die herfs van 2016 dat sy skepping in Killea sigbaar geword het. Dit is die eerste keer opgemerk deur passasiers wat by die Derry-lughawe ingevlieg het. Die kruis is meer as 100 meter lank en 70 meter breed.


Emery se vrou, Norma, het gesê dat sy min geweet het van haar man se werk, maar gesê het dat sy Keltiese Kruis hom trots sou maak. Gareth Austin, ‘n tuinboukundige, het gesê dat hierdie visioen van die kruis in die woud vir die volgende 60 of 70 jaar sigbaar kan wees en getuig van die enorme hoeveelheid vaardigheid wat betrokke is by die skep van so 'n kunswerk. Austin het gesê: "Dit is nie net snypatrone in jou agterste grasperk nie, dit is aansienlike tuinbou-ingenieurswese. Liam het dit geskep en die geskenk daarvan aan die res van ons gegee, en ons gaan dit vir die volgende 60 of 70 jaar waardeer."


Hierdie verhaal gryp my aan die hart.

In die eerste plek omdat hy nie hier is om die vrug sy werk te geniet nie. Dalk is dit presies hoe ons oor ons eie lewens moet dink: ‘n plek waar ons die werk insit waarvan ander mense later van tyd die vrug sal pluk. En daarom hierdie grootse vraag: is ek besig om so om te gaan met my lewe dat dit ‘n lewegewende effek sal hê vir 60 of 70 jaar na my dood?


In die tweede plek is dit vir my aangrypend om te dink dat ‘n mens hierdie kunswerk net uit die lug kan waarneem. As jy op die grond stap tussen die bome sal jy nie eers weet dit is daar nie. Jy het ‘n groter perspektief nodig. Dit nooi my om meer met God se perspektief te leef. Meer van “bo” af te kyk en minder in my interne woude te dwaal.


Derdens gryp dit my aan omdat niemand regtig geweet het waarmee hy besig was nie. Net hy het die droom in sy hart gedra en homself daaraan toegewy om dit te laat realiseer, al was daar nie eintlik ander mense wat bewus was van waarmee hy besig is nie. Dalk herinner dit ons om minder te leef vir “applous” en erkenning, en meer gedryf te word deur die droom wat God in ons harte geplant het en dit net met passie en toewyding uit te voer.


Mag Liam Emery jou ook vandag inspireer!


20 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page