Volg die Son!
- Marina van der Linde
- May 29, 2024
- 2 min read

Het jy al gewonder wat is die rede waarom jong sonneblomme die son volg? Hierdie verskynsel, wat bekend staan as heliotropisme, gebeur as gevolg van die sirkadiese klok wat geneties deel is van sonneblomme (en mense) se natuurlike daaglikse siklus van ongeveer 24 uur.
’n Jong blom kyk oos met dagbreek en volg die son, sodat dit stadig na wes draai deur die loop van die dag, soos die son deur die hemel beweeg. Gedurende die nag draai die blom weer stadig terug oos om die volgende oggend weer die siklus van voor af te begin. Maar wat sou die rede hiervoor wees?
Navorsers het gevind dat die beweging van die plant eintlik die gevolg is van verskillende kante van die stam wat op verskillende tye van die dag groei. Groeikoerse aan die oostekant is hoog gedurende die dag en baie laag in die nag, terwyl groeikoerse aan die westekant laag is gedurende die dag en hoër in die nag. Omdat die oostelike kant deur die dag vinniger groei “draai” die stam dan van oos na wes. Snags is daar ‘n hoër groeitempo aan die westekant van die plant sodat die plant deur die nag weer van wes na oos beweeg, om môreoggend gereed te staan om die son te groet.
Volwasse sonneblomme reageer verskillend op die son. Wanneer sonneblomme volwasse is, kyk hulle hoofsaaklik oos. Die rede hiervoor, meen wetenskaplikes, is dat die blomme wat na die ooste kyk vinniger warm word en so meer bye lok. Klaarblyklik hou bye van warm blomme.
Die sonneblomme wat op verskillende lewensfases anders reageer herinner ‘n mens dat ons in verskillende fases van ons lewe ‘n ander fokus en ‘n ander funksie behoort te hê. Dit is hoe die natuur dit bedoel het!
Die metafoor van die son as die bron van lewe fassineer my nog altyd. Een rede hiervoor is die beeld wat in Maleagi 4:2 gebruik word, waar daar staan dat die son van geregtigheid oor God se kinders skyn met genesing in sy strale.
Ek het die eerste keer hierdie woorde van Helen Mirren se karakter Chris, in “Calender Girls”, by Lize Beekman gehoor, voor sy haar liedjie “Sonneblom uit Bethlehem” gesing het:
“I don't think there's anything on this planet that more trumpets life than the sunflower. For me that's because of the reason behind its name. Not because it looks like the sun but because it follows the sun. During the course of the day, the head tracks the journey of the sun across the sky. A satellite dish for sunshine. Wherever light is, no matter how weak, these flowers will find it. And that's such an admirable thing. And such a lesson in life."
Mag jy vandag voel hoe jou hart, jou diepste binnekant, soos ‘n sonneblom-satelliet soek na die lig en die hitte van die Son en mag dit jou rigting bepaal. Mag jy al meer ‘n Sonsoeker wees!
©️ Marina vd Linde 2024
Comments