Die luuksheid van gewoonheid
- Marina van der Linde
- Aug 14, 2024
- 3 min read

In die afgelope week sien ek weer iets op sosiale media wat basies sê dat ‘n gewone lewe vervelig en voorspelbaar is en dat ‘n mens elke dag iets buitengewoon en onvoorspelbaar moet doen. Die dilemma met hierdie uitlating is dat dit mense met gewone lewens laat glo dat daar fout is met jou lewe en dat dit moet anders wees voor dit aanvaarbaar kan wees.
Daar is natuurlik sekere aspekte hiervan wat waar is, maar ek dink ‘n mens moet versigtig wees om te begin glo dat ‘n gewone lewe nie ‘n “life goal” kan wees nie.
‘n Gewone lewe kan getuig van dinge wat in ons tyd kosbare kommoditeite geword het. Dit is dinge soos stabiliteit, voorspelbaarheid, fisiese, emosionele en finansiële sekuriteit, om gekoester te wees en om veilig te voel.
Daar is twee ekstreme waarvoor ons versigtig moet wees: aan die een kant om in groewe te verval en aan die ander kant om ontevrede met ons lewe te raak omdat dit te gewoon is. Beide groewe en ontevredenheid is ‘n aanduiding van interne vasgevaldheid, eerder as dat daar fout is met jou eksterne lewe. Dit is juis ‘n gewone lewe wat die ruimte sou wou skep waarbinne ek dieper in my eie spiritualiteit en lewe kan afsak.
Thomas Moore skryf iewers hieroor: “I'm painfully aware that the experts in fields like religion and spirituality sometimes feel that bringing mysticism down so far into ordinary life is an insult to the great mystics and makes it all too light and breezy. I feel just the opposite. I believe that one day we'll understand that we've lost out on religion because we made it too lofty and distant. I see it as a simple quality of everyday life, and in that simplicity lie its beauty and importance.”
Binne die struktuur en veiligheid en stabiele voorspelbaarheid van ‘n gewone lewe kan ek die interne ruimte skep om te groei en te floreer en intern die mens te word wat ek graag wil wees. Die interessante dinge wat ‘n mens nou en dan doen is wonderlik om jou lewe momenteel te verryk, maar dit is in die gewone lewe waar ek tot 98% van my lewe leef.
Iewers het ek op hierdie woorde afgekom – ek weet ongelukkig nie wie die skrywer is nie: “I was just sitting, on an ordinary day in the midst of the ordinary things of life, waiting for a friend to arrive. And then it happened. The gentlest sense of wholeness and deep-down satisfaction came over me that I have ever known. It enfolded me like warm mist and calmed me to the core. Every ounce of taut energy so common to the demands of daily life in a technological society had been drained, it seemed. Only the feeling of being totally, quietly, completely alive remained. Then I realized what it was: was happy. Happy. That's all. Just happy.”
Wat hierdie persoon daardie dag ervaar het was hoe die gewone lewe die ruimte kan skep waar ek aan die binnekant dieper kan leef. My verantwoordelikheid is om binne die luukse voorreg van my gewone lewe die mees gunstige interne omstandighede te skep waar ek die lewe met rykdom kan leef en beleef.
So voor ‘n mens weer verlei word om te dink dat jou lewe so vervelig en voorspelbaar is, kan ‘n mens dalk onthou dat daardie stabiliteit iets is wat baie minder mense het as wat ‘n mens besef en die rykdom van ‘n gewone lewe, die luuksheid van alledaagsheid, met tevredenheid omarm as die ruimte waarbinne ek gekoester kan groei en floreer.
As ‘n mens eendag na jou lewe kan terugkyk en sê dat dit ‘n “gewone lewe” was, sou dit opsigself ‘n getuienis wees.
©️ Marina vd Linde 2024
Comments