Hoe wil jy onthou word?
- Marina van der Linde
- Nov 20, 2024
- 3 min read
Nicole Stewart vertel van 'n kliënt met wie sy gewerk het wat 'n vennoot in 'n prokureursfirma is en sy is ook verantwoordelik vir ‘n huishouding met twee jong kinders.
Toe sy by die sessie instap was sy soos ‘n masjien wat aangeskakel is en al heeldag teen hoë revolusies funksioneer. Haar hele wese was so styf in ‘n bondeltjie gewikkel, asof sy net gereed was om in aksie te spring en dit het gelyk of sy al weke lank in hierdie toestand funksioneer.
Aanvanklik, tydens haar sessie, was sy soos ‘n hoogspanningsdraad vol opgewerkte energie en momentum en kon sy glad nie op enige manier met haar emosies konnekteer nie en sy wou ook nie. Sy het gesê haar emosies pootjie haar en maak haar traag en dan sukkel sy om weer effektief te funksioneer. Sy het aanvanklik met ‘n spesifieke werksverwante kwessie by die spreekkamer ingestap, maar uitgestap onder die indruk dat hoe sy elke dag in haar lewe opdaag veroorsaak dat sy met diskonneksie leef.
Deur so hard te probeer om die masjien te laat werk en te oorleef, het sy kontak met haarself en daarmee saam, met haar mense, verloor. Dit het uiteraard in haar optrede na vore gekom en sonder dat sy dit besef het was sy besig om op allerhande klein maniere hartseer, woede, frustrasie, uitputting en angs op die mense om haar te projekteer.
Eers nadat sy dit besef het, kon sy intensioneel begin werk aan daardie dieper aspekte van haarself wat letterlik geskree het om konneksie en aandag en stadig maar seker het die manier hoe sy in haar persoonlike en werkslewe opdaag begin verander. Hierdie was egter ‘n intensionele proses wat ‘n hele nuwe manier van wees gevra het.
Toe ek hierna luister het ek nogal gewonder op watter manier ek in my eie lewe opdaag.
As ek nou vir die mense naaste aan my moet vra hoe hulle my op ‘n daaglikse basis beleef, wat sal hulle sê.
As ek nou moes doodgaan, hoe sal ek onthou word.
Nicola Jane Hobbs stel dit op ‘n aangrypende manier:
“I do not want to be remembered as a woman who was always exhausted. I do not want to be remembered as a woman who was always stressed, always busy, always rushing, always holding herself together and pushing through.
I would like to be remembered as a relaxed woman, a compassionate woman, a curious, joyful, pleasure loving woman. A woman who works hard and rests deeply, who loves fiercely and lives peacefully. A woman who knows her worth and her power, who accepts her imperfections and her vulnerabilities, who embraces her limitations and her possibilities. A woman who laughs and cries and aches and loves and is enchanted by the mess and magic and mundaneness of this beautiful, shimmering life.”
So nou is die vraag: Hoe wil jy onthou word?
En is die manier hoe jy tans is en leef, besig om dit waarvoor jy onthou wil word moontlik te maak? Hiervoor het ons elkeen natuurlik ‘n goeie skoot eerlikheid nodig om onsself waar te neem deur die oë van diegene wat saam met ons leef en vir ons omgee.
Ek hoop, dat as ek en jy eendag dood is, sal ons mense glimlag as hulle aan ons dink.
©️ Marina vd Linde 2024

תגובות