top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Die legkaart



Ek gesels gister met iemand wat ek al baie jare ken en wat my nog altyd inspireer. Sy is volgende jaar 90 jaar oud. Sy sê dat sy en haar man verlede week die 64ste herdenking gevier het van hulle eerste “date”. En toe sê sy: “In my wildste drome sou ek nie kon dink deur watter kronkels en draaie die verloop van die lewe ons sou neem nie. Maar dit was alles soos dit moes wees, soos die stukke van ‘n legkaart. Daar was baie moeilike en uiters uitdagende dinge, maar as die een ding nie gebeur het nie, het die ander dinge wat daaruit voortgevloei ook nie gebeur nie.”


Ek ken iets van haar verhaal en weet vir ‘n feit deur watter moeilike dinge sy al is. Dalk is hierdie legkaart-beeld iets wat ‘n mens eers met sekerheid kan weet as jy midde-in jou 90ste lewensjaar is, want dan het jy beslis “hindsight”. Vir ons outjies wat nog net ‘n handvol dekades geleef het is dit nie so maklik om bo alle twyfel te wéét dat die stukke van die lewe soos ‘n legkaart in mekaar pas nie. Ons kan dit nog nie sien nie, maar as ‘n mens luister na die getuienis van mense wat al ‘n lewe lank intensioneel die pad stap, wil dit tog lyk of dit waar is.


Ook vir die Bybel is hierdie gedagterigting nie vreemd nie. Ek dink aan Psalm 31:16 wat sê: “My tye is in U hand” en Psalm 139:12 wat praat oor al ons planne, en dan God se ander kyk: “..., maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”

Richard Rohr beaam dit in sy boek “Everything belongs”, as hy sê dat letterlik alles in die lewe verweef is en ‘n plek het. Wanneer ‘n mens kan leer om die paradokse en kompleksiteite van die lewe te omarm en nie daarteen te baklei nie, en om betekenis te vind in beide die lewegewende en die uitdagende dinge van die lewe, kan ‘n mens begin sien dat alles op ‘n manier ‘n plek het.


Ek weet hierdie standpunt kan simplisties klink en dat ‘n mens baie kritiese vrae kan vra, soos:Wat van daardie mens wat jou hele lewe opgemors het?,Wat van daardie tragedie wat jou lewe in sy spore gestop het?, of Wat van die verkeerde keuse of die fout wat jy gemaak het, wat jy oortuig is jou lewe ontspoor het?


Ek weet nie wat om te antwoord nie, want dit is nie klinkklaar, maklik of eenvoudig nie en ‘n mens sou ook doodgewoon nie kon saamstem nie.

As gelowige mense kan ons nie anders as om te glo dat God ons ook in dit ontmoet en op sy verbysterende en misterieuse manier dinge laat meewerk en inmekaar laat pas, wat onsself nooit sou kon uitdink nie.


Al wat ons kan doen wanneer die lewe nie eintlik sin maak nie, is om te weetdat waar ek nou is nie is waar ek vir altyd gaan wees nie;dat God my altyd in alles ontmoet en my nooit los nie;dat die wat beter weet as ons meen dat die lewe soos ‘n legkaart inmekaar pas; en dat die tyd sal leer dat al ons tye in God se hand is, of soos Enya sing: “And who can say where the road goes?Where the day flows? Only time.”


Mag ek en jy groei in die geloof en hoop dat elke stukkie van ons legkaart oop en bloot voor God se oë lê, al sien ons self nie die prentjie nie.


©️ Marina vd Linde 2024

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page