top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Wat my lewe my leer



Ek weet nie van jou nie maar vir my is die lewe dikwels maar ‘n uitdaging. Scott Peck begin nie verniet sy boek “The Road Less Travelled” met die woorde “Life is difficult” nie. Ek wens dikwels dat die lewe eenvoudiger is. Daar is soveel dae dat mens letterlik voel of jy in duisend rigtings getrek word en nie aan al die eise van die lewe kan voldoen nie. Ek vermoed jy kan ook hiermee identifiseer.

 

Wanneer die lewe regtig uitdagend word, word ons as God se kinders dikwels maar net soos enige ander mens en tree ons op vanuit ons bekende maskers en verdedigingsmeganismes en ou seerplekke en is al ons goeie voornemens vinnig by die agterdeur uit. Hoe kry ek dit reg om in die uitdagende tye van lewe anders te leef, ander keuses te maak, raak te sien hoe ek self soms die stok in die speke van my lewe is?

 

As ons wil groei in wysheid en al meer God se mense wil word sal ons moet leer om te sien hoeveel wysheid en lesse daar te vind is in die lewe wat ons elke dag leef, al lyk dinge nie soos ons gedroom het dit sou nie.

 

‘n Wyse Indiaanse vrou het iewers hierdie woorde gesê: “Few people know how to appreciate their world, and what it can teach them. They throw away knowledge minute by minute… Responsibility begins each morning upon awakening” (Estcheemah, uit Lightning Bolt, deur Hyemeyohts Storm).

 

Ek vermoed daar is pertinente dinge wat jou lewe besig is om jou te leer, wat jou kan help om te groei in wysheid en onderskeiding. As ons vasval in die ratte van ons eie lewens, probeer ons dikwels by ander mense die raad en advies inwin om ons weer rigting te gee. Sê nou daardie rigting waarna ek soek lê oop en bloot voor my, maar ek sien net nie raak wat my lewe reeds vir my leer nie?

 

Wanneer jy nou kyk na die lewe wat jy leef, watter wysheid wag daar reeds vir jou? Kan jy leer om te sien hoe God jou in dit ontmoet en leer om raak te sien wat jou lewe jou wil leer, al is dit nie noodwendig maklik of gemaklik nie?

 

©️ Marina vd Linde 2024

 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page