Tussen reg en verkeerd
- Marina van der Linde
- Mar 26
- 2 min read
Updated: Mar 28
Een van die dinge waaroor ek baie sterk voel – en dalk is dit omdat ek self so daarmee sukkel – is hoe om goeie konflikhanteringsvaardighede te beoefen. Dit is asof ons as gelowiges ‘n reuse agterstand op hierdie terrein het, juis omdat baie van ons grootgeword het met die gedagte dat ‘n Christen nie veronderstel is om te baklei, kwaad te word en konflik te hê nie. Tog is daar nie een van ons wat nie wel met konflik te make het nie. Die ironie is dat konflik ‘n baie normale deel van verhoudingsgroei is, en daar waar ons nie leer om konflik sinvol te hanteer nie, word ons verhoudings groewe, loopgrawe of Siberiese sneeuvelde, met die gevolg dat daar bitter min groei – en later ook bitter min konneksie – is.
In antieke Griekeland was daar twee filosofiese terme wat ons vandag nog baie kan help: “philia sophia” en “philia nikia”. Philia sophia beteken liefde vir wysheid. Philia nikia beteken liefde vir wen.
In enige argument, debat of konflik kan ‘n mens die gesprek op een van hierdie twee maniere benader. Vanuit die philia sophia standpunt is dit nie so belangrik wie reg en wie verkeerd is nie, maar die doelwit is om by ‘n dieper gemeenskaplike verstaan van die kwessie op die tafel uit te kom, met die gevolg daar meer konneksie, begrip, insig, deernis, en ‘n gesamentlike fokus daaruit kom. Hierdie benadering verenig dus die partye op ‘n dieper vlei en lei tot dieper verstaan, harmonie en eenheid.
Vanuit die philia nikia standpunt gee jy nie om of daar groei, konneksie, begrip of wysheid nie. Jy probeer net jou eie standpunt met hand en tand verdedig vanuit die primêre uitgangspunt dat die ander persoon verkeerd is. Met hierdie benadering is daar nie ‘n soeke na ‘n gesamentlike oplossing nie, maar word ons mekaar se opponente en teenstanders.
Langtermyn verhoudings staan ook voor hierdie keuse: kies ons philia sophia of philia nikia. Philia nikia is so half ons “default” , en na die romantiese fase, vorm philia nikia die basis vir die spontane magstryd fase, waar ons in ‘n egostryd met mekaar gewikkel is, aanvallend of verdedigend optree, en met mekaar kan veg tot die bloed loop. Maar as ‘n mens hier vasval word daardie verhouding met verloop van tyd die hel vanself.
Eers as ons die strydbyle van ons ego’s en die behoefte om altyd reg te wees kan laat vaar, kan ons aan beweeg na die volgende fases van die verhouding (waarby geweldig baie mense nooit uitkom nie) waar toewyding, groei en ‘n bewustelike en bevredigende verhouding kan plaasvind – die naaste wat ons mense aan hemel op aarde kan kom. As ons hierby wil uitkom sal ons philia nikia moet verruil vir philia sophia as ons basies uitgangspunt. Tussen reg en verkeerd is daar ‘n derde pad en dit is wysheid.
©️ Marina van der Linde 2025

コメント