Water word wyn
- Marina van der Linde
- Jan 29
- 2 min read
Updated: Mar 28
As ons na ons eie lewens kyk sal baie van ons sê: “My lewe voel so gewoon, so alledaags. Elke dag, elke week is dieselfde. En die lewe is hard. Ek werk hard en dit vra baie van my om net alles te laat gebeur.” En dan lees ons die storie van Jesus se eerste wonderwerk in Johannes 2 waar Hy water in wyn verander.
Miskien kan ons die leë klipkanne sien as die simbool van ons eie ervaring van leegheid en droogheid en die water as die gewone dinge van die lewe waarin God ons ontmoet en waarmee Hy dan iets buitengewoon kan doen – die beste wyn kan skep!
Wanneer ons die storie van hierdie eerste wonderwerk lees is daar ‘n paar dinge om raak te sien:
1. Wanneer Jesus Christus deel word van die “mengsel” omskep hy die alledaagse en gewone goed in ons lewe in iets buitengewoon. Die omstandighede verander nie, maar die lewende water en diep dors wat ek ervaar, verander wel.
2. Hy neem ook daardie dinge in my lewe wat sê ek is nooit goed genoeg nie en ek maak dit nie, en sê nee, jy is meer as goed genoeg, want God begeer om deur jou in hierdie werklikheid in te stroom en van dit iets buitengewoon te maak, sodat ons nie meer leef vanuit “ek is nie goed genoeg nie”, maar vanuit “hier is meer as genoeg en dit gaan nie opraak nie”.
3. Dit wat Jesus Christus in ons wil doen is die beste en daar is ‘n oorvloedige en oneindige beskikbare voorraad. Ek moet net my leë klipkan bring. Hy sal die res doen.
Dalk voel die klipkan van jou lewe uitgedroog en dolleeg. Miskien sê Jesus ook vandag vir jou: “Bring daai leë kan van jou hier. Maak dit vol met wat jy het om te gee, maar gee dit. Ek sal sorg vir die res.”
Dalk nooi Jesus jou vandag om op te hou om na die leë klipkanne te staar, maar dit te bring en vol te maak met die gewone water van jou lewe, sodat hy dit kan omskep in gloeiende wyn, in iets buitengewoon goed.
Miskien verwoord Koos vd Merwe se woorde iets van hierdie diep smagting:
Dors – Koos vd Merwe
wees U self vandag my diep verlange
mag niks en niemand
doen nie
as net U
geen liefde geen saak
of dit groot is
of mooi of duur
mag niks blywend
bly maak
of vrede gee of lewe
buiten U
les U hierdie dors
maar hou my ewig dors
na U
©️ Marina vd Linde 2025

Comments