top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Ek wil so graag...

In die afgelope week gesels ek met iemand wat sê dat sy dink sy verstaan op ‘n diep manier wat ons as God se kinders hier op aarde moet doen, maar sy kry dit net nie reg nie. Ek vermoed die meeste van ons “kry dit nie eintlik reg nie”. Die klassieke woorde van Paulus wat sê: “Die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie, en die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek!”

 

Soms dink ons net nie wat ons doen nie en tree impulsief op. Ander kere word ‘n mens deur iets “getrigger”, kom ou wonde skielik weer na vore en maak die akkedis in jou kop of reptielbrein dat jy min beheer het oor hoe jy reageer, sodat jy eers na ‘n ruk perspektief kry en dan baie skaam voel vir jouself of vies is vir wat jy gesê het.

 

‘n Mens wil so graag God se werklikheid in jou werklikheid indra. Jy wil so graag die mooiste voorbeeld van wysheid en ewewig, “serenity en tranquility” wees. Maar hoe kry ‘n mens dit reg?

 

Dalk kan hierdie woorde van Richard Rohr ons so ‘n bietjie help: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking.”

 

Wat bedoel hy daarmee? As ek graag meer netjies wil wees, help dit nie ek lees boeke oor netheid en filosofeer daaroor nie. Ek word netjies deur netjies te wees. As ek graag beter wil slap, kry ek dit nie reg deur 24:00 in die nag te lê en video’s kyk oor hoe om beter te slap nie. Ek moet daardie dinge implementeer wat my kan help om beter te slaap.

 

Dieselfde beginsels geld eintlik maar om God se mens te wees: dit help nie net ek lees en praat en dink daaroor nie. Dit realiseer daar waar my “thinking” in “living” verander en ek dit doen.

Hoe word ek meer geduldig? Deur geduld te oefen presies daar waar ek dit nie het nie.

Hoe word ek meer dapper? Deur dapper op te tree presies daar wat ek nie dapper voel nie.

Hoe leer ek inskiklikheid? Presies daar waar ek sukkel om inskiklik te wees.

 

In kort, wanneer ek myself in enige lewensituasie bevind word daar dikwels van my gevra om presies in die teenoorgestelde rigting as my ego-reaksies of gekondisioneerde patrone op te tree – en dit is presies op daardie punt waar groei en transformasie plaasvind.

 

Ek weet nie van jou nie, maar ek gaan hierdie woorde met groot letters op ‘n spierwit papier neerskryf en elke keer wanneer ek moedeloos word, dit weer lees en net weer begin: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking.” Dit is belangrik om te onthou dat ons hierdie nie alleen of op ons eie moet of kan doen nie, want dit is nie in die eerste plek ‘n selfhelp-projek nie, maar God se liefdevolle en deernisvolle proses met ons. Om daarom ook ruimte te skep vir God om in my te doen wat hy alleen kan doen, veral op daardie dae wat ek klaarblyklik nie daarin slaag nie.


©️ Marina van der Linde 2025



ree


 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page