top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Welkom tuis

Die gewone gang van die lewe het nogal ‘n manier om te maak dat ons dinge as vanselfsprekend aanvaar en nie meer raaksien hoe diep bevoorreg ‘n mens is nie.  Een van die dinge wat ons nie altyd rááksien nie, is ons woonplekke.

 

John O’Donohue skryf iewers hoe ons blyplekke nie net ‘n struktuur is nie, maar ‘n veilige dop waarbinne die intimiteit van ons lewens gekoester word:

 

“A home is not simply a building; it is the shelter around the intimacy of a life. Coming in from the outside world and its rasp of force and usage, you relax and allow yourself to be who you are. The inner walls of a home are threaded with the textures of one's soul, a subtle weave of presences. If you could see your home through the lens of the soul, you would be surprised at the beauty concealed in the memory your home holds. When you enter some homes, you sense how the memories have seeped to the surface, infusing the aura of the place and deepening the tone of its presence. Where love has lived, a house still holds the warmth. Even the poorest home feels like a nest, if love and tenderness dwell there.” (uit Beauty: The Invisible Embrace)

 

Dit is natuurlik hoekom ons na ‘n vakansie iets sê soos “Oos Wes, Tuis Bes” of “Jou huis is waar jou hart is”.

 

In Engels verduidelik die onderskeid tussen “house” en “home” dit mooi. Die “house” sou die fisiese plek wees waar jy bly terwyl die “home” die plek is, die tuiste, waar jou hart en siel kan tuiskom. So of jy nou in ‘n “mansion” of in ‘n woonstel wat oor die stad uitkyk of ‘n huis in ‘n voorstad of ‘n meenthuis in ‘n kompleks of ‘n tuinwoonstel of ‘n klein gehuggie iewers in ‘n nedersetting sonder munisipale dienste bly, daardie “plek” word ‘n tuiste wanneer jou hart en siel daar tuiskom.

 

Iemand vertel vir my dat sy mense ken wat al ‘n paar jaar in hulle huis bly, maar dat die huis nie soos ‘n tuiste voel nie, omdat hulle siele nog nie in die mure ingetrek het nie. John O’Donohue verwoord dit ook: “The inner walls of a home are threaded with the textures of one's soul, a subtle weave of presences.” Dalk is dit presies wanneer ons regtig iewers tuiskom – wanneer ‘n mens se siel in die mure ingetrek het. Dit is natuurlik ook waarom dit vir die meeste mense so traumaties is om te trek – dit gaan nie eerstens oor die fisiese spasie wat jy agterlaat nie, maar ook die stukke van jouself wat daar geleef het.

 

“Om huis toe te gaan” is dus veel meer as ‘n fisiese handeling. Dit is iets waaraan ‘n mens se siel elke dag ‘n diep behoefte het. Ongeag van jou fisiese lewensomstandighede, hoop ek dat jy iewers vandag om jou kan rondkyk en eer bring aan die plek waar jou siel elke nag asemhaal.

 

©️ Marina vd Linde 2024



Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page