Iemand vertel hoe sy en ‘n kollega hulleself op ‘n dag op ‘n grondpad naby die Botswana grens bevind. Hulle is op pad na ‘n klein nedersetting onder wie hulle moet gaan navorsing doen. Op ‘n punt kom hulle by ‘n T-aansluiting, maar het geen manier om te weet of hulle links of regs moet draai nie. Daar is geen naambordjies nie – ook nie eers ‘n bordjie wat wys waar hulle vandaan kom nie. Die kaart wat hulle het dui nie hierdie plek aan nie en boonop is daar geen selfoonopvangs nie. Die een klim op die kar se dak opsoek na ‘n sein. Die ander een gaan loop ‘n wye draai in die stof en son op soek na ‘n sein, maar daar is geen geluk nie. Na ‘n lang ruk se sit en wonder, sien hulle daar in die verte ‘n stofkol aankom. Dit is ‘n man op ‘n fiets. Na ‘n rukkie is dit duidelik dat hy reguit op pad is na hulle. Toe hy by hulle kom stop hy en hulle vra hom of hy weet waar die dorpie is waarheen hulle op pad is. Hy antwoord dat hy beslis weet en op die vraag of hulle links of regs moet draai sê hy: “Jy kan links of regs draai. As jy links draai is die pad lank, maar nie baie lank nie. As jy regs draai is die pad kort, maar nie baie kort nie.”
Iemand anders wat die storie hoor, vertel hoe hy ook iewers teen die Botswana grens in so ‘n tipe situasie was. Toe hy vir die persoon – wat verduidelik dat hulle moet “links draai by die kremetartstomp en moet regs draai by die groot doringboom” – vra of hulle nie sal verdwaal nie, antwoord die persoon dat ‘n mens nie eintlik kan verdwaal nie. Jy kan net die verkeerde pad vat. En as jy agterkom dit gebeur, draai jy net om op jou spore. Jy ry dalk ‘n dag lank terug, maar uiteindelik sal jy kom waar jy moet wees.
Is beide hierdie verhale nie ‘n pragtige metafoor vir die lewe nie?
Soms dink ons ons het die verkeerde pad gevat, of ons is bang dat ons wel die verkeerde pad sal vat, maar dalk is daar ‘n kans dat, as ‘n mens saam met God op pad is, daar nie as sulks ‘n regte of verkeerde pad is nie.
Een pad is dalk lank, maar nie so lank nie. Die ander pad is dalk kort, maar nie so kort nie.
En as ons agterkom ons het wel die verkeerde pad gevat, is dit dalk nodig om terug te loop op ons spore.
Wanneer ‘n mens die lewe sien as ‘n pad met ‘n bestemming waar jy eendag moet arriveer, dan word ‘n mens bang dat jy sal verdwaal of dat jy die verkeerde pad sal neem. Maar wanneer jy besef dat daar nie werklik hier op aarde ‘n bestemming is nie, maar dat jy regdeur jou lewe altyd op pad is en dat die Here jou konstante Reisgenoot is, is een pad dalk langer en die ander korter en soms vra die pad dat jy sal terugloop op jou spore, maar met Hom by jou sal jy nie sommer verdwaal nie.
Daar is natuurlik diegene wat willens en wetens kies om die “verkeerde” pad te stap of die van ons wat so onnadenkend met ons een kosbare lewe omgaan dat ons nie dink op watter pad ons is nie. Die meeste van ons het die intensie op die mees lewegewende pad te stap en in hierdie begeerte sal die Here ons altyd lei. Dalk kan ons elke dag hierdie vraag vra: “Indien ek sou aanhou om hierdie pad te stap, waar gaan ek uitkom?” Tree vir tree – met behulp van onderskeiding en refleksie – sal die Here ons help om ons pad te vind.
留言