top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Medeskeppers

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Ons mense is, saam met God, medeskeppers van realiteit. Heelwat gelowiges sal wil sê dat dit net God is wat realiteit skep, maar dit sal nie waar wees nie. Ons mense skep ook ‘n sekere realiteit – daarvan sal ons nie sommer kan wegkom nie.


En daarom, as daar dinge in die lewe gebeur waaroor ons geen beheer het nie, kan ons daardeur platgeslaan word of ons kan probeer om sin te maak daarvan en saam met God ‘n nuwe soort realiteit bou, want God het nog altyd gekies om aan ons die waaghalsige vryheid te gee om sy medeskeppers te wees. Hieroor skryf Dan Siegel: “If you can make sense of your losses, and the story of your life, you can change generations.”


‘n Verdere dieper uitnodiging op die pad van om saam met God medeskeppers van realiteit te wees, is dat ons die moed sal hê om ou ongesonde patrone aan te spreek, wat dalk al geslagte lank saam met ons kom. Dit is waarskynlik waarvan die Bybel praat as daar van erfsonde gepraat word. Ou, ongesonde maniere van wees, wat van geslag tot geslag oorgedra en aangeleer word, maar iewers word ons as God se kinders geroep om te stop en daardie ou ongesonde patrone te breek.


Maar dit is nie maklik nie, want dit vra doelbewuste en intensionele werk om in die kelders van generasies af te klim en ongesonde of selfs siek maniere van doen en dink te stop en tot bekering te laat kom. Pete Scazzero sê: “Our problem, of course, is who wants to lean into the losses in our life, the setbacks, the impact of our families over three to four generations? It is God’s way to free us into becoming people who (can) change the generations that follow us.”


Om hierdie patrone te breek sodat ons saam met God medeskeppers van realiteit kan wees is besonder moeilik, want dit vra dat ek verantwoordelikheid neem. Wanneer ek verantwoordelikheid neem kan ek nie meer ander mense blameer nie. Ek kan nie meer sê dat my gedrag en optrede en selfs my omstandighede iemand anders se verantwoordelikheid is nie. Dit is dalk nie my skuld dat ek is waar ek is nie, maar niemand gaan ook kom om my daarvan te red nie. Ek sal self verantwoordelikheid moet neem. James Sherman het hieroor gesê: “You can’t go back and change the beginning, but you can start where you are and change the ending.”

Dit is so: jy kan nie teruggaan en die begin verander nie, maar saam met God kan jy begin waar jy nou is en die einde van die verhaal verander.

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page
<