Daar is baie van ons wat in tradisionele godsdienstige kontekste grootgeword het en wat voel dat “tradisionele maniere” net nie meer so lekker werk nie. Mense sal gereeld vir my iets sê soos: “Daar moet tog meer wees” of “Dit werk net nie meer vir my nie” of “Dit voel asof daar geen polsslag is nie”. Hierdie soort uitsprake is nie ‘n wanhopige stem nie, maar juis die aanduiding dat God se Gees reeds binne-in jou aan die werk is om daardie begeerte en smagting en soeke na dieper en meer aan te wakker.
In ons soeke na “meer” dink ons dikwels dit beteken groter. “Ek moet net meer hiervan en meer daarvan en nog meer van die.” Maar dit is nie waar die antwoord lê nie, want dikwels beteken groter en meer eintlik op die einde van die dag vlakker en minder. Die antwoord lê eerder in dieper.
David Steindl-Rast praat op ‘n stadium oor die verskil tussen godsdiens en diep geloof of spiritualiteit. In sy eerste sin gebruik hy die woord “mysticism”, wat baie mense afskrik. Met “mistiek” bedoel hy die persoonlike ervaring van God, wat ander mense nie noodwendig so ervaar nie. (Daar is natuurlik vorme van mistiek wat ons nie onderskryf nie, waarop ek nie hier uitbrei nie.)
Hy sê: "The religions start from mysticism. There is no other way to start a religion. But, I compare this to a volcano that gushes forth ...and then ...the magma flows down the sides of the mountain and cools off. And when it reaches the bottom, it's just rocks. You'd never guess that there was fire in it. So after a couple of hundred years, or two thousand years or more, what was once alive is dead rock. Doctrine becomes doctrinaire. Morals become moralistic. Ritual becomes ritualistic. What do we do with it? We have to push through this crust and go to the fire that's within it."
Dit is ‘n wonderlike beeld! Dalk is die dilemma dat te veel van ons maar met die klippies speel en die vuur verloor het. My gebed is dat jy sal ontdek wat die verskil tussen die klippe en die vuur van jou verhouding met die Here is.
Comments