top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Saam in my boot



ree

Die verhale in die Bybel wil altyd vir ons iets dieper leer van God se manier en God se wêreld. Daar is ‘n paar slaggate waarin mense kan val as dit oor die Bybel gaan, soos om die storie so te vergeestelik dat dit iets heeltemal anders sê as wat Jesus se bedoeling was of ‘n mens kan die storie so uit mekaar te trek, omdat dit blyk onmoontlik te wees dat die storie steriel raak of ‘n mens kan dit net op die oppervlak lees en dit as kinderstories te sien. Die verhaal van Jesus wat op die water loop is ook so ‘n storie.

 

Die feit dat die verhaal in Matteus 14, Markus 6 en Johannes 6 voorkom impliseer dat dit ‘n normatiewe verhaal is vir daardie eerste gelowiges. Lees dit gerus in onder andere Matteus 14:22-33.

 

Na Jesus se besige dag, stuur Hy die dissipels solank vooruit en Hy gaan alleen die berg op. Hy spandeer die hele nag alleen daar in die Vader se teenwoordigheid. Die volgende oggend met dagbreek, is dit vanuit hierdie stilte en afsondering dat hy teen die berg afstap. Hy dra die stilte saam met Hom in die storm in. Dit verander aanvanklik niks aan die storm nie, maar dit verander hoe Hy in die storm inloop. Die afsondering en stilte in God se teenwoordigheid was nie net vir Hom ‘n plek waarheen Hy gegaan het nie. Dit was veral die plek waarvan af Hy gekom het. Hy dra dus die stilte saam met Hom. Daar is vir ons iets belangrik hierin te leer.

 

Jesus se stilte en afsondering staan in sterk kontras met die dissipels wat al die heelnag stoei op ‘n boot met wind en golwe. Wanneer Jesus dan teen dagbreek na hulle aangestap kom oor die water, skrik hulle hulle morsdood en dink Hy is ‘n spook. Maar dan hoor ons Jesus se gerusstellende woorde: ”Wees rustig. Ek is hier. Moenie bang wees nie.” Dit is dieselfde woorde wat Jesus ook vir my en jou in ons storms sê: “Wees rustig. Ek is hier. Moenie bang wees nie.” Ons hoor dit net die altyd nie.

 

Petrus, vol bravade, sê dan dat Hy ook op die water wil loop soos Jesus. Jesus sê hy moet kom en alhoewel hy sy eerste paar tree in geloof en vertroue gee, word hy vinnig oorweldig deur die storm van sy twyfel. Dit is nogal ironies dat die een wat Jesus die “Rots” noem, soos ‘n klip sink die oomblik toe hy sy oë van Jesus afhaal.

 

Die Bybel sê: ‘Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”’

 

Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek. Hy is dadelik by in Petrus se groot nood en dit is vandag nog waar van ons. Wanneer Jesus hom ‘n kleingelowige noem en vra waarom hy begin twyfel het, raas Hy nie met hom nie. Hy sê dit met ‘n sagte hart omdat Hy Petrus se menslikheid ken.

 

In daardie oomblik bly Jesus by hom en klim saam met Petrus in sy boot – en die wind het gaan lê.

 

Ons is baie soos Petrus. Wanneer die storms om en in ons opsteek, glo ons nie ons gaan ok wees nie, maar Hy sou graag wil hê ons moet hoor as Hy sê: ”Wees rustig. Ek is hier. Moenie bang wees nie.”

Soms vra hy van ons om in die stormagtigheid bietjie waaghalsig te wees en sê Hy: “Kom!”. Maar dan kan ons nie op onsself vertrou nie. Dan moet ons ons oog op Hom hou. Wanneer ons dan wel twyfel, raas Jesus nie met ons nie, maar ontmoet ons in ons menslikheid, klim dadelik in die boot saam met ons en maak die winde van ons storms stil en dra Hy iets van die stilte van God – waarvan hy deurdrenk is –  in ons bote in.

 

Mag jy ook hierdie week toelaat dat Jesus saam met jou in jou boot klim.

 

©️ Marina van der Linde 2025

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page