My lewe - 'n Pastiche
- Marina van der Linde

- Nov 4
- 3 min read
Updated: Nov 4
Dalk ken jy nie die woord “pastiche” nie. ‘n Pastiche is ‘n kunswerk, stuk musiek, letterkundige werk of poësie wat intensioneel die styl van iemand anders se werk of verskeie style naboots om dikwels ook op daardie manier eer te bring aan die oorspronklike kunstenaar.
Ek vind hierdie ‘n fassinerende metafoor vir ons as gelowiges, naamlik dat ons lewens ‘n pastiche kan wees van die lewe van Christus, ‘n kunswerk in navolging van die Een wat vir ons die pad kom wys het.
Thomas à Kempis (1380 – 1471) was die skrywer van die gewilde boek “The imitation of Christ”, wat naas die Bybel die Christelike boek is wat die heel meeste gelees is. Hy begin sy boek met die volgende woorde: “"He who follows Me, walks not in darkness," says the Lord. These are the words of Christ, and they teach us how far we must imitate His life and conduct if we wish to be truly enlightened and free from all blindness of heart.”
Volgens hom was ‘n lewe in nabootsing van Christus die enigste manier hoe ons werklik op hierdie aarde ons diepste lewensin kan bereik. Om dus ‘n lewe te leef wat stelselmatig meer en meer soos die lewe van Christus lyk, ‘n pastiche van wie Hy was, uitgedruk deur die unieke mediums van my eie menswees, siel en persoonlikheid.
Een van die frases wat Jesus die heel meeste gebruik het was: “Volg my...” Hy sê nooit aanbid my nie, maar volg my. Wat bedoel hy daarmee? Hy nooi hulle saam op ‘n pad. Maar Hy nooi hulle veral om ‘n sekere soort mens te wees.
Hierdie navolging of nabootsing is nie net onbewuste na-aap gedrag nie, maar ‘n diep verstaan van Jesus Christus se motiewe, beweegredes en sy groot droom vir elke mens op hierdie aarde. Dit is ‘n beliggaming van die bewussyn van Christus (of in Engels “the consciousness of Christ”), wat my van binne af omvorm om van binne na buite – deur en deur – al meer soos Hy te word en nie net op ‘n kunsmatige manier soos Hy te “lyk” nie.
Dit laat dink my ook aan iemand anders in die Bybel wat ook ‘n aantal jare na Jesus gesê het “Volg my”. Dit was natuurlik Paulus in 1 Korintiërs 11:1: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
Toe ek jonger was het ek gedink dit is nogal arrogant en verwaand van Paulus om te sê: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
Waarskynlik sê hy dit nie omdat hy dink dat hy perfek is nie, maar omdat hy in alle omstandighede probeer (en dit waarskynlik, soos ons, nie altyd regkry nie) om op te tree op maniere wat mense help om nader aan God te kom en wat mense nie van Jesus se pad vervreem nie maar hulle juis nader nooi na Sy onweerstaanbare lig.
Hy kán dus sê “Volg my voorbeeld,” nie omdat hy perfek is nie, maar omdat hy in opregtheid en erns altyd probeer om Jesus se agenda en voorbeeld te volg, om Jesus se karakter en Jesus se soort mens te wees in elke situasie.
Presies dit is een van die groot dilemmas:
Ons tree nie altyd vanuit ons Christus identiteit en ons Christus agenda op nie.
Ons word eerder deur ander identiteite en agendas gedryf.
Solanus Benfatti skryf in “The Five Wounds of Saint Francis” oor die ingesteldheid van Francis van Assisi:
"It is essential to comprehend that Francis had never thought to pick and choose aspects of the life of Christ to dress himself up in, but rather had chosen something that I would say is much harder because there is far less control in it: he had chosen, simply, to follow. Francis chose to move forward step-by-step in the footprints of the Lord, which I say is dangerous, because who can know where it will lead?"
As jy iets hiervan begin verstaan is daar ‘n goeie kans dat ‘n mens se lewe al meer ‘n pastiche sal wees van die lewe van Christus, ‘n kunswerk in navolging en toewyding aan die oorspronklike Kunstenaar.
©️ Marina van der Linde 2025








Comments