top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Die medisyne van dankbaarheid

 Ons persoonlikhede, lewensfases en -omstandighede speel ‘n reuse rol in hoe ons die lewe beleef. Trouens is daar baie dinge wat ons ervaring van realiteit beïnvloed. In die soort wêreld waarin ons leef kan ons maklik oorweldig word en baie van ons ervaar ook dikwels dat die lewe nie maklik is nie. Baie mense sukkel met neerslagtigheid, pessimisme, hopeloosheid en magteloosheid.

 

Twee van die belangrikste vaardighede om in uitdagende tye aan te leer is

om te leer om in die oomblik die mooi van die lewe raak te sien

en om te fokus op dit waarvoor ‘n mens dankbaar is.

Dit is letterlik soos medisyne wat ons in moeilike tye help om “beter” te word en met die groter realiteit van die lewe verbind.

 

Wanneer ons in die oomblik die mooi van die lewe raaksien, maak dit ons onmiddellik meer bewus en roer dit ons harte met dankbaarheid.

Die skoenlapper wat skielik om jou dartel, jou hond wat jou kom opsoek,

‘n vreemdeling se glimlag op straat, die son wat warm op jou rug skyn, daardie koppie koffie waarna jy al heel oggend uitsien, die pers en oranje van die sonsondergang.

 

Ek het in die begin van hierdie jaar gedink dat ‘n mens so maklik fokus op die goed wat die lewe moeilik maak, dat jy al die baie dinge mis wat mooi en goed is van die lewe en waarvoor jy kan dankbaar wees.

So het ek ‘n bottel gevat en ‘n klomp gekleurde papiertjies geknip met een kleur vir elke maand van die jaar. Ek het begin om alles wat goed en mooi is en waarvoor ek dankbaar is op ‘n papiertjie te skryf soos wat dit gebeur en in die bottel te gooi. Daar lê al ‘n yslike stapel reënboog papiertjies in daardie bottel.

 

Elke keer as die lewe op ‘n oomblik te moeilik voel, moet ek net in die rigting van daardie bottel vol papiertjies kyk en dan weet ek dat die Here omvattend

in al die detail van my lewe teenwoordig is en my nooit sal los nie.

 

Watter konkrete ding sou jy dalk kon doen om jouself te help om die medisyne van dankbaarheid meer deel van jou lewe te maak?


©️ Marina van der Linde 2025


ree

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page