top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Vandag is Aswoensdag

 Vandag is Aswoensdag en in die Westerse Christen kalender is Aswoensdag die eerste dag van Lydenstyd. Dit vind 40 dae voor Goeie Vrydag (Sondae uitgesluit) plaas.

 

Aswoensdag se oorsprong kom van die Ou Testamentiese gebruik waar gelowiges as oor hulle koppe gestrooi het as ‘n teken van verootmoediging en skuldbelydenis. Op hierdie dag, met die begin van Lydenstyd, dink ons aan ons eie menslikheid, gebrokenheid en verganklikheid.

 

Op Aswoendag word ‘n mens genooi om na te dink oor houdings en motiewe of ‘n gesindheid waarmee jy leef en maniere hoe jy teenoor ander optree, wat dalk mettertyd in die jaar wat verby is tussen jou en die Here probeer insluip het.

 

Die ses weke van Lydenstyd, wat vandag begin, is ‘n tyd om onsself te stroop van die geraas van ons lewe en om ons bewussyn weg te draai van die dinge wat ons lewe, tyd en gedagtes op ongesonde maniere opneem. Hier is ‘n geleentheid om ons lewe te stroop na die basiese, die nodige, te fokus op die betekenis van lewe en weg te draai van dít wat ons innerlike wêreld – ons siele – versmoor. Dit is ‘n tyd waar jy jouself oorgee aan God se Gees om deur Hom getransformeer en nuutgemaak te word.

 

Lydenstyd wil my van aangesig tot aangesig voor God en myself te staan laat kom sodat ek in hierdie 40 dae op ‘n diep manier na die dinge in my lewe kyk wat ek dalk andersins in die harwar van die lewe miskyk.

Daarom is lydenstyd nie veronderstel om net ‘n kort-termyn uitkoms te hê nie. Dit is ‘n tyd waar jy jouself oorgee aan God se Gees om deur Hom getransformeer en nuutgemaak te word.

 

In Lydenstyd word ons genooi om ‘n dieper verbintenis te maak, wat dalk só kan lyk:

1.    Fokus meer op jou verhouding met God en spandeer daagliks ‘n paar minute meer met God;

2.    om daagliks, maar veral weekliks, te reflekteer oor wat in jou lewe aan die gebeur is en oor wie jy op hierdie stadium ten diepste is;

3.    om iets prys te gee soos verslawende of verdowende gedrag of ongesonde en destruktiewe gewoontes, of selfs ‘n sekere manier van praat of optree, wat die mense na aan jou skade aandoen en wat jou nie in die rigting van God se droom nooi nie.

Neem ‘n paar minute om te dink wat jy sal wil prysgee en hoe jou verbintenis sou kon lyk.

Lydenstyd is nie veronderstel om net ‘n kort-termyn uitkoms te hê nie. Dit is ‘n tyd waar jy jouself oorgee aan God se Gees om ten diepste deur Hom  getransformeer en nuutgemaak te word.

 



 

‘n UITNODIGING

 

Ek wil jou nooi om op een of ander manier deel te neem aan die ritueel van Aswoensdag om jou hiermee te help.

·  Gaan soek dalk na ‘n kerk naby jou waar jy vandag die teken van die as kan ontvang (dit is gewoonlik kerke wat ryk liturgiese tradisies het) – jy sal by enige kerk welkom wees, jy hoef nie amptelike lidmaat te wees nie.

·  As jy in Pretoria woon het die Ooskerk ook vandag so ‘n wydingsgeleentheid waar jy enige tyd tussen 17:00 en 19:00 kerk toe kan kom om hieraan deel te neem.

 

·  Indien dit glad nie moontlik is nie kan jy dit ook by die huis op jou eie doen.

·  Alhoewel ‘n mens eintlik Palmblaar-as gebruik, kan jy enige ander as neem en vir jouself en jou huismense 'n kruis daarmee op julle voorkoppe trek (as ander in die huis saam met jou hieraan deelneem moet hulle dit vrywillig doen en verstaan waarom hull dit doen). As jy nie as het nie kan jy ook houtskool of ‘n bietjie grond gebruik om die kruis op jou voorkop te trek.

 

·  Wanneer jy dit doen word jy eers stil en wy jouself aan die Here deur ‘n eenvoudige gebed te doen waarin jy jou menslikheid en gebrokenheid aan Hom erken. Jy vra ook vir die Here om binne-in jou te werk, jou hart te verander  en jou te help om jouself werklik raak te sien.  Hierna sê jy: “Stof is ek en tot stof sal ek terugkeer”, terwyl jy die as-kruis op jou voorkop aanbring.

·  Die gedagte is dat ‘n mens dit nie weer afvee nie en tot jy gaan slaap met hierdie as-kruis op jou voorkop loop.

 

Mag Lydenstyd ‘n diep transformatiewe tyd in jou lewe inlui, wat jou neem na ‘n dieper plek van transformasie, sterf aan jouself en nuutgemaak word.


©️Marina vd Linde 2024


 

19 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page