Woensdag 11 Mei 2022
Sterker as wat jy dink
Die lewe is hard. En as ons iets anders verwag, maak ons ‘n fout! Tog dink ek dat daar baie mense in ons tyd is wat verwag dat die lewe maklik of ten minste makliker moet wees. Dit was eintlik nog nooit so nie. Daar was nog letterlik nooit ‘n geslag mense vir wie die lewe net maklik was nie.
Natuurlik is dit so dat elke dag ‘n mengsel van al die goeie en al die uitdagende dinge van die lewe is, maar om met die verwagting te leef dat die lewe op ‘n dag net maklik gaan wees en dat ek vir weke en maande aanmekaar net gladwater sal beleef is ‘n verwagting wat wag om teleurgestel te word.
Dalk is dit presies waarom ons tieners en jong volwassenes psigies so sukkel. Hulle verwagting van die lewe is dat dit moet makliker wees as wat dit is. Die resultaat in ons samelewing is dat psigiese ongesondheid genormaliseer word, elke tweede mens gemedikeer word en al minder mense met emosionele en psigiese veerkragtigheid leef (hieroor voel ek nogal sterk, so dit is dalk ‘n onderwerp vir ‘n ander dag).
‘n Ruk gelede stuur ek ‘n verjaardagwens vir ‘n persoon wat 80 word en sê: “Mag die nuwe lewensjaar net goeie dinge inhou”, waarop hy reageer: “Baie dankie, maar dit is ‘n baie onrealistiese wens. Wat die lewe ook al inhou, die Here is naby”.
Charles Bukowski het iewers hierdie woorde geskryf wat my op ‘n diep manier inspireer:
“I was laying in bed one night and I thought ‘I’ll just quit...to hell with it.’ And another little voice inside me said ‘Don’t quit...save that tiny little ember of spark.’ And never give them that spark because as long as you have that spark, you can start the greatest fire again.”
Om die vonk in my siel te koester vra nie dat die lewe moet maklik wees nie, maar dit vra dat ek sal vashou aan die hoop dat ons deur die liefde van die Here nie vergaan nie. Dat daar geen einde aan Sy ontferming is nie. Dat dit elke môre nuut is. (Klaagliedere 3:22)
Hoop is nie ‘n brose kwesbare klein voëltjie wat uit die nes geval het en niks vir haarself kan doen nie. Hoop het stokke in haar hare, stof op haar gesig en bloed op haar knieë en staan hande viervoet en uitasem terwyl sy sê: “Bring it on!”
Met die Here by jou kan jy meer hanteer as wat jy dalk wil glo. Jy is sterker as wat jy dink.
Comments