top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Spiertier en Mannetjie

‘n Goeie vriend vertel op ‘n dag vir my hierdie storie. ‘n Klein, maer mannetjie met hangskouers en ‘n spiertier wat bo almal om hom uittroon kom eendag gelyk aan by ‘n bosbouer waar hulle aansoek doen vir werk. Hulle albei kry die werk.


Mannetjie haal sy beskeie byltjie uit en Spiertier sy indrukwekkende byl, wat Mannetjie beswaarlik kan optel. Hulle kry hulle plek in die woud en spring aan die werk. Elke nou en dan as Spiertier opkyk sien hy hoe Mannetjie eenkant langs ‘n boom sit. Hy dink by homself: die outjie gaan dit nie maak nie. Die bos is ‘n harde wêreld.


Aan die einde van die dag staan hulle albei by hulle hout en groot is sy verbasing om te sien dat Mannetjie presies dieselfde hoeveelheid hout as hy gekap het. Hy kan dit eenvoudig nie glo nie.


Die volgende dag kom hy redelik onthuts daar aan en spring aan die werk. Hy werk en werk en kap en kap tot die sweet in strale teen sy spiere afdrup. En steeds sien hy elke nou dan vir Mannetjie sit - wraggies sit!


Aan die einde van die dag is dit dieselfde storie. Mannetjie het sowaar weer sy kwota geëwenaar. Hy wil feitlik gek word. Dis mos onmoontlik! Dit kan nie wees nie!


Op dag drie is dit ‘n ander storie. Arme Spiertier is buite homself. Hy kap en kap soos ‘n mal ding. Stop nie eers om te eet of water te drink nie, en wil jy nou meer, aan die einde van die dag het Mannetjie méér hout as hy. Hy stort omtrent ineen.

Moedeloos vra hy vir mannetjie: “Hoe kan dit wees? Kyk hoe klein en petite is jy teenoor my en kyk na jou ou byltjie. Dit is fisies onmoontlik dat jy meer as ek kan kap. En boonop rus ek nie eers nie, maar jy sit elke nou en dan onder die boom en rus!“

Toe hy hom eindelik uitgewoed het gee mannetjie ‘n diep sug en sê: “Ag, Spiertier! Al wat ek anders doen as jy is dit: as ek onder daai boom sit, maak ek my byl skerp.”


Hoe gereeld sit jy om jou byl skerp te maak?

Onthou jy nog wat dit is wat jou byl help skerp bly?


Dalk is dit tyd saam met die spesiale mens in jou lewe, miskien is dit om met iets kreatief besig te wees, of dalk is dit ‘n paar ure in die natuur of ‘n hele oggend alleen.

Waarskynlik is dit altyd iets wat my herinner aan wie God my bedoel het om te wees en my op ‘n manier daardie diep konneksie met God laat ervaar wat aan my die boodskap gee dat ek lewe!

Vir mense wie se lewens amper vanself deur ‘n dolle gejaag ingesluk word, is tye van uitrus, tot verhaal kom en ‘n goeie paar ure se stilte en afsondering uiters noodsaaklik om weer ‘n mens se byl skerp te maak.


Wat dit ook mag wees, as ons nie gereeld tyd neem om ons byle skerp te maak nie, sal ons meer en meer sukkel om ons kwota hout te lewer. Dalk kan jy nou reeds beplan wat dit is waarvoor jy hierdie naweek wil tyd inruim, want ‘n mens se byl word nie vanself skerp nie.



10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page