Sondeurdrenk
- Marina van der Linde

- Jul 29
- 2 min read
Wintertyd is nooit vir my eenvoudig nie. Ek is nou al vyftig jaar oud en kry dit nog steeds nie mooi uitgewerk nie! Elke jaar sê ek vir myself, hierdie jaar gaan ek Winter beter regkry, maar teen einde Junie werk my planne nie meer nie en dan is daar nog ten minste twee maande oor. Een ding wat darem altyd help is om in die son te sit. In Pretoria, waar ek bly, is daar gelukkig ‘n oorvloed van Winterson, behalwe op die rare Hoëveld dae wanneer dit bewolk is of daardie dae wanneer so koud is, dat selfs die son jou nie kan warm maak nie.
Wanneer ‘n mens dan wel in die son bak of vir watter rede ook al jouself in die son bevind, voel ek altyd hoe ek van buite af binnetoe warm word, tot die murg in my bene ook warm voel. Op daardie dae kry die woord “sondeurdrenk” nuwe betekenis.
In die Bybel vind ‘n mens die simbool van die son op ‘n hele paar plekke. Die son is simbool van God se teenwoordigheid, heerlikheid en geregtigheid (Psalm 19:4-6, Maleagi 4:2, Psalm 84:11). Jesus self word gesien as die Son van geregtigheid. Die voorspelbare ritme van sonop en sononder herinner ons aan die ritme en orde waarmee God die natuur geskape het. Sonop is ook altyd ‘n simbool van nuwe begin en nuwe hoop vir elke dag. Vir my is een van die mooiste tekste waar die simboliek van die son die duidelikste na vore kom Maleagi 4:2 – die son van redding wat skyn met genesing in sy strale.
Die son was nog altyd vir my ‘n simbool van God self. Van Sy allesomvattende, alomteenwoordige lewenskrag wat lewe, lig, groei en hoop gee aan alles wat bestaan. In daardie opsig smag ek daarna om ‘n Kind van die Son te wees.
Ek lees iewers hierdie aangrypende woorde van die Turkse skrywer, Serdar Özkan:
"There are some people who have Sun
inside them.
It's hard to explain.
Their presence just brightens,
it's not about their beautiful smiles.
They have an internal being that
sheds light and feels like Sun.
It's a calm energy.
Inner peace.
But most importantly; it's not wanting
anything back in return.
It's Sun."
Op besondere koue dae, wanneer daar ‘n ysige wind om die hoek sny en dit voel of daar min van die Son se warmte deur ‘n mens skyn, is die beste raad dalk nie om te probeer om meer Son uit te straal nie, maar om net in die Son te gaan sit en deur die Son deurdrenk te word. Wanneer laas het iemand wat so pas uit die son kom jou styf vasgehou? Dit is nie asof daardie persoon eers die hitte probeer vrystel nie – dit gebeur sommer net vanself, omdat hy of sy deur die son deurdrenk is.
Dalk, as ons toelaat dat die Son ons deurdrenk, beleef die mense na aan ons ons ook as Kinders van die Son en daarom bid ons: “Deurdrenk ons, Here, met U son van lewe”.
©️ Marina van der Linde 2025








Comments