Baie van ons wil die “projek” van innerlike transformasie mooi beplan en uitwerk en op ons eie aanpak. As ek dit gaan probeer, gaan ek my kort voor lank vasloop in die agenda van my ego. Daar is maar een manier en dit is om my oor te gee aan God se Gees en die stroom van Lewe wat Hy deur jou lewe wil laat vloei en om Hom te vertrou met dit wat Hy wil doen.
Een van die tekste in die Bybel wat ons weer en weer terugroep is Johannes 12:24-26 (waarskynlik een van die sleuteltekste in Johannes en in die Evangelie):
As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring Hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees.
Die vers handel natuurlik oor Jesus wat sterf sodat daar lewe kan wees vir baie. Maar in ons eie lewe geld dieselfde beginsel. Sue Monk Kidd skryf op ‘n stadium oor die begrip “Eastering”. Sy sê dat God die “tomb” van Jesus verander in die “womb”. Die plek van die dood word die plek van die lewe.
Wanneer ons bereid is om deur die prosesse te gaan wat ons laat voel of ons begrawe word, ontdek ons dat God daartoe in staat is om juis daar in die donker, onder die grond, lewe te bewerk, want God is, anders as ons, nie bang vir grond tussen die tone nie.
Francois Naudé beskryf hierdie restourasie en transformasie proses as volg:
“Ons het al vir jare ‘n ou Oregon pine tafel op ons stoep. Met tyd het hy te veel son en reën gekry en verweer geraak maar later het die struktuur begin meegee en was hy nie net lelik nie, maar geheel lendelam. In lockdown pak ek die ding en maak hom reg.
Soos dit met sulke werk gaan is dit heel terapeuties om dag na dag so te staan en skuur. En dit raak toe soort van 'n metafoor vir my lewe.
Ek kon nie net die ding vernis nie. Ek moes eerstens die struktuur versterk, krake en gapings opvul, en daarna die ou verweerde hout verwyder om by die mooi hout uit te kom.
Dit was 'n pynlike proses maar toe dit eers by die verfdeel kom was die beloning groot.
Ek dink toe, dit is net so met ons siele. As dit so lank verwaarloos was moet daar eers struktuur herstel word en dan moet van die ou gewoontes, gevoelens en klomp ander goed eers verwyder word voordat die mooi hout weer sigbaar word. En daarna seël ons dit om dit teen verweer te beskerm.”
Dalk is van die eerste tree om te sien dat die hout van my lewe restourasie en transformasie nodig het. En om daarna bereid te wees om deur die intense ongemak van groei te gaan terwyl ek besef dat hierdie nie my “projek” met myself is nie, maar God se lewensproses met my.
Comments