In die afgelope week luister ek hoe Amanda Strydom praat oor die onsigbare oorlog waarin ‘n mens stadig maar seker sterf, aan die hand van die onsigbare wapens wat ons teen mekaar gebruik. Sy sê: “Soms praat jy waar jy eerder moes stilbly en soms bly jy stil waar jy eerder moes praat.” Dalk is dit een van die grootste kenmerke van wysheid: om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly.
Soms gaan dit regtig sleg met jou of jy is baie gesfrustreerd en dan sukkel jy om jou woorde te filter. Dan maak jy die mense na aan jou seer as jy hulle afjak of seermaak – soms met wat jy sê, maar soms sommer net moet hoe jy sê wat jy sê. Henri Cloud sê hieroor: “Our words are a product of our hearts. When we fail to hold back, or set boundaries on what comes from our mouths, our words begin to take charge of us instead of the other way around. Even still, we are responsible for our words and will have to continually clean up the messes they make if we cannot achieve self-control over what we say.” Soms probeer ons nie eers vreeslik intensioneel om die mense na aan ons seer te maak nie, maar omdat ons nie bewustelik genoeg is met wat binne ons gebeur nie, mors ons ons eie morsige buie op die mense om ons, sonder om te dink.
Ander kere gebruik ons weer ons stiltes as ons voorkeur wapen. Ons folter die mense in ons lewe deur onsself in yspaleise toe te sluit en die hele atmosfeer te omskep in iets wat ‘n Siberiese sneeustorm sal ore aansit. Hierdie vorm van passiewe aggressie doen net soveel skade as om ons woorde soos lemme in te span.
Ons stiltes word gevaarlik wanneer ons staan en kyk hoe iemand optree op ongesonde maniere of wanneer ek wegskram van konflik omdat ek bang is vir die ongemak. Stilte word potensiaal dodelik wanneer ons deur ons stilte iemand in staat stel om weg te kom met moord.
Miskien is die grootste tragedie wanneer ons woorde en ons stiltes soveel pyn veroorsaak en ons kom dit nie eers agter nie…
Om God se mooi mense te wees, beteken dat ons sal ophou met ons onsigbare oorloë. Dat ons sal leer om stil te bly wanneer stilte nodig is en dat ons sal leer om te praat wanneer woorde nodig is. Dat ons die harde werk sal doen van beter verhoudingsvaardighede aanleer, sodat ons verhoudings en ons lewens ruimtes sal word waar ons en die mense na aan ons kan lewe en asemhaal.
Comments