Ongekontamineerde lig
- Marina van der Linde

- Jul 8
- 2 min read
Ek het onlangs by die familie in Howick gekuier. Een oggend gaan stap ek douvoordag, toe die son net op is. Dit is asblikdag in Howick en oral op die sypaadjies staan swart sakke gereed om weggery te word.
Ek sien hulle al van ver af aankom – ‘n ma met haar klein dogtertjie. Hulle stop by elke sak en soek na iets om na die herwinningsdepot elders in die dorp te neem. Die dogtertjie is omtrent drie jaar oud, haar hare is in netjiese klein bollas vasgebind en sy is warm aangetrek teen die vroegoggend koue met ‘n skelpienk baadjie. Toe sy my sien, hardloop sy reguit op my af met uitgestrekte klein armpies en ‘n glimlag so breed dat dit lyk of die son oor haar blink wange opkom. Sy gryp my om my bene vas en gee my haar styfste druk, terwyl sy daar onder van my knieë af opkyk en met die grootste oop lag net sê: “Hallo”, en voor ek, stomgeslaan, kon reageer, vlieg sy net daar om en huppel agter haar ma aan.
My hart wou tegelykertyd bars en breek. Bars van verwondering omdat dit gevoel het of ek so pas vir God in lewende lywe ontmoet het en breek by die gedagte dat die lewe wat hierdie kind en haar ma leef duidelik nie sag en gemaklik is nie.
Na hierdie vroegoggend ontmoeting op straat, het ek gedink aan die digter en filosoof Robert Bly se woorde: “When we were one or two years old we had what we might visualize as a 360-degree personality. Energy radiated out from all parts of our body and all parts of our psyche.” En ek het gedink: hierdie kind was vanoggend 360 grade lig en sy het dit nie eers geweet nie. ‘n Ongekontamineerde beliggaming van God self. En ek het gewonder: hoeveel van daardie lig is in my sigbaar? Ek kan steeds nie ophou om aan haar te dink nie en ek bid dat daar iets mooi en goed van haar lewe sal kom, selfs al is daar baie teen haar en veral dat sy nooit haar lig sal verloor nie.
©️ Marina van der Linde 2025








Comments