top of page

Om ruimte te skep

In die kultuur waarin ons leef, word daar konstant gefokus op wat ons doen. Hoe produktief ek was vandag. Wat ek alles in hierdie week gedoen gekry het. Hoeveel items ek van my “to do” lysie kon afmerk. Boonop sit ons voortdurend nog meer druk op onsself en op mekaar. Ons sê vir mekaar ons moet meer doen, harder probeer, meer omgee, meer diensbaar wees, meer betrokke wees, dit terwyl ons reeds skeefgetrekte en oor-besige realiteite die laaste bietjie lewe uit ons probeer pers. Maar wat van wie ek as mens IS?


Natuurlik is dit tot op ‘n sekere punt vir ons goed om besig te wees en ‘n sinvolle dagtaak te hê. Ek is seker jy weet hoe dit lyk wanneer iemand te veel tyd op hande het en so ‘n persoon se bestaan in sinneloosheid begin uitrafel.


Maar daar is dalk ‘n kans dat ons so besig is met besig wees, dat ons nie meer tyd het om mens te wees nie. Om onnatuurlik besig te wees het meestal ‘n destruktiewe effek op ‘n mens se binnekant, omdat dit jou gediskonnekteer, gefrustreerd en ontevrede laat.


Ek het iewers hierdie woorde gelees (ek kan nie meer die skrywer onthou nie): “You can’t just do the process, you have to BE it, live it. Then it is easier for people to ‘catch’ it from you.” Dit gaan oor die idee dat dit veel help dat ek op ‘n kunsmatige manier op die oppervlak van my lewe sekere dinge doen, as dit nie vanuit ‘n egte plek binne-in myself kom nie. As ek aan die binnekant ‘n sekere soort mens is, het ek nie nodig om so hard te probeer om dit aan die buitekant te wees nie, want dan kom dit amper “vanself”. Die “doen” vloei as’t ware uit die “wees”. Maar ek gaan nie by hierdie interne “wees” kan uitkom as ek nie tyd maak vir God se dieper prosesse in my lewe nie.


Dit is natuurlik ‘n interessante fenomeen: dat ek myself so besig hou juis sodat ek nie by die dieper aspekte van my lewe kan uitkom nie. Daar is ‘n goeie kans dat besig wees een van die groot geestelike slaggate is vir mense met slim ego’s… Wanneer ek so besig is kom ek dalk uit by die eksterne aspekte van my lewe, maar daar is ‘n kans dat ek onbewustelik, maar tog intensioneel, die interne aspekte van my wese systap.


Ons is nie veronderstel om net nog meer en meer laste op onsself en op mekaar te laai nie. Mag ons dapper genoeg wees om ons besige programme elke nou en dan te stop, sodat ons die ruimte kan skep vir wie ons ten diepste is om na vore te kom en ons meer spontaan en lewegewend in ons lewe teenwoordig kan wees.




7 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page