top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

'n Verhaal van Sterf en Opstaan

Updated: Oct 2


Op Maandagaand 15 April 2019, met die aanbreek van Heilige Week net voor Paasfees, het ‘n tragedie afgespeel toe ‘n groot gedeelte van die Notre Dame in Parys afgebrand het. Tot vandag toe weet niemand wat die brand veroorsaak het nie. Ek onthou hoe elkeen wat lief is vir Parys, selfs Afrikaanssprende Pretorianers soos ek, in verbystering gekyk het na video’s van mense wat magteloos staan en kyk hoe hierdie majestueuse katedraal afbrand. Dit het 15 ure geneem voor die meer as 400 brandweer personeel uiteindelik hierdie reuse vuur kon blus. Maar die skade was enorm.

 


ree

Daardie dag toe die Notre Dame gebrand het, het ek terug gedink aan minder as ‘n jaar vantevore, toe ek en ‘n groep met ‘n Vespers aanddiens in die Notre Dame gesit het en hierdie ruimte in verwondering ervaar het. Enigiemand wat al in Parys was, sal beaam dat die Notre Dame sonder twyfel een van die “vital organs” van die stad is, wat die polsslag van die stad bepaal. Dit was onvoorstelbaar dat so iets nou eintlik kon gebeur het.

 

Na die ramp het die stadsvaders en -moeders begin met ‘n monumentele poging om hierdie enorme skade stuk vir stuk te herstel. In die vyf jaar wat dit geneem het om die herstelwerk te beplan en uit te voer, is daar nie veel daarvan gemaak nie. Dit het so half agter die skerms gebeur. Tot die heropening van die katedraal op 8 Desember 2024.

 

Een van die verslaggewers het dit so verwoord: “The heartbreak of  that day, when seemingly all was lost, has given way  to a resurrection. A ritual knocking (on the front door) marked the reopening of  Notre Dame Saturday night just five years after  the fire, unveiling a restoration perhaps as extraordinary as was the destruction itself.”

 

Die rekonstruksie van die katedraal het nie magies of met die klap van ‘n vinger gebeur nie. ‘n Hele weermag van meer as 2000 vakmanne, ingenieurs, kenners, kunstenaars, 1000 Franse eikebome, skrynwerkers wat met Middeleeuse tegnieke en Middeleeuse gereedskap die restourasie gedoen het, so na as moontlik aan die oorspronklike skrynwerk, het onverpoosd gewerk om hierdie simbool van hoop en lewe weer te herstel.

 

Een van die “unintend outcomes” van die ramp was dat die span geforseer was om die binnekant van die katedraal vir die eerste keer in amper 200 jaar noodgewonge en sentimeter vir sentiment te takel en letterlik alles moes skoon en heelmaak. Selfs die kunswerke, wat deur eeue se stof – en nou ook roet – beskadig is, kon verwyder woord en moeisaam en met groot vaardigheid en sorg gerestoureer word tot iets wat ondenkbaar beeldskoon is. Fresko’s wat eeue oud is, is met fyn kwassies deur tientalle kunstenaars getakel en sentimeter vir sentimeter oor letterlik jare herstel tot hoe dit daar in die begin was. Die vorige keer wat die Notre Dame net naastenby gelyk het soos sy nou lyk was in 1866.

 

‘n Mens besef dit nie noodwendig nie, maar die Notre Dame is in 1163 gebou, oor ‘n periode van 182 jaar, en in 1345 voltooi. Die Franse Revolusie (tussen 1789 en 1794) en gepaardgaande skade wat aan die gebou aangerig is was amper onvoorstelbaar. Teen die einde van die 18e eeu was die katedraal in ‘n gevorderde stadium van verval en dringende restourasie werk was nodig. Die katedraal is nie meer as ‘n aanbiddingsplek gebruik nie en daar was selfs voorstelle om die katedraal te sloop. Uiteindelik is die restourasie projek in 1844 aan die argitek Eugène Viollet-le-Duc toevertrou en het ongeveer 20 jaar geduur. Na die ingebruikneming van die katedraal deur die kerk in die middel 1800’s, het dit ‘n ruimte en simbool van aanbidding, hoop en lewe geword vir baie gelowiges oor die aarde.

 

Die afgelope Desember, kort na die heropening - op die oggend van my 50ste verjaarsdag nogal - was dit ‘n enorme voorreg om in die Notre Dame te kon wees. Niks kon my voorberei op wat my oë daar sou sien nie. Die vorige keer wat ek daar was, was die gebou maar donker en grys na meer as 150 jaar se roet en stof. Nou het die katedraal soos ‘n blinknuwe pêrel hier voor my oë geskitter. Dit was asemrowend.

‘n Mens kan in alle eerlikheid sê dat dit wat vandag daar staan op die Île de la Cité in Parys, mooier is, meer aangrypend is, as toe dit aanvanklik in 1345 in gebruik geneem is.

 

In die gedempte geruis van die mense daarbinne het ek lank gesit en gedink dat hierdie katedraal en haar storie ‘n simbool is van ons mense se lewens. Deur ‘n leeftyd is daar waarskynlik een of twee groot gebeure (soms selfs meer) wat die potensiaal het om jou katedraal heeltemal te vernietig, maar dan kom ontmoet God ons in die verval en die roet en rommel, en saam met ons begin Hy stuk vir stuk deur die debris werk. As ek Hom toelaat begin Hy dan met ‘n restourasie proses, wat dikwels jare neem, maar as Ek Hom vertrou met die proses, en myself soos daardie 2000 vakmanne en kunstenaars, heelhartig toewy aan hierdie heilige taak, gebeur daar in die sinergie tussen God en myself ‘n alchemie, wat tot gevolg het dat die katedraal van my lewe met verloop van tyd beter daar kan uitsien as toe ek aanvanklik die katedraal betrek het.

 

Ek wil jou nooi om saam met die Here in jou katedraal in te stap en met ‘n fyn oog te assesseer wat nodig is om daarbinne te gebeur. Dalk staan jy voor ‘n hoop rommel en debris. Dalk is die plek afgeleef, stowwerig en verdof. Miskien het jy nodig om ‘n pertinente deel van die katedraal te restoureer of te herstel. Laat toe dat die Here jou in dit ontmoet en begin om saam met Hom, met groot liefde, geduld en genade, daardie diep herstelwerk te doen wat dalk al lankal nodig is. Daar is van die werk wat ek en die Here self kan doen. Maar vir ander van die werk het ek die hulp en vaardigheid van vakmanne nodig, soos sielkundiges, beraders en vertroude wyses in my lewe.

 

Die verhaal van die Notre Dame is ‘n metafoor van sterf en opstaan – daardie proses wat saam met Christus op Paasnaweek kulmineer en die hart van die Christen geloof en spiritualiteit vorm.

 

Jesus Christus nooi ons om saam met Hom – dalk vir die soveelste keer – weer hierdie pad agter Hom aan na die kruis te begin stap.

 

©️ Marina van der Linde 2025


ree

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page