top of page
Writer's pictureMarina Strydom

'n Skitterende diamant


Ek is diep oortuig dat God graag sou wou sien dat ons werklik insig in onsself ontwikkel. Baie Christene skram so weg van selfinsig dat ‘n mens eintlik wonder of hulle bang is vir wat hulle daar gaan vind. Hulle sal dikwels sê dat hulle maar net die Here vertrou en alles aan die Here oorlaat, maar dit is ongelukkig nie hoe dit werk nie. Gaan kyk mooi: daar bestaan nie ‘n mens op aarde wat ‘n diep pad van groei stap en nie daarmee saam deur die soms donker, onbekende, selfs skrikwekkende, vallei van die binnewêreld moet gaan nie.


Dit is my binnewêreld en daarmee saam my persoonlikheid, wat bepaal hoe ek optree en mense behandel. Dit is my binnewêreld en persoonlikheid wat God se transformasie, omvorming en nuutmaking nodig het. Daar is nie ‘n ander manier nie.


God gryp nie sommer magies met ‘n towerstaf in my lewe in nie. Hy neem my saam deur die donker, dikwels vreesaanjaende vallei, want daar is maar een manier om anderkant uit te kom en dit is daardeur. Sonder diepgrondige selfkennis, refleksie oor ander se reaksie op my en waarneming van my gedrag, kom daar nie insig nie.


Die diepste doel van selfkennis is transformasie. Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat dit is wat jy moet laat sterf nie? Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier van doen ander mense laat voel nie? Hoe kan jy jouself al meer raaksien voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te neem, bewus te word en toelaat dat God dit stelselmatig transformeer nie?


God wil graag die kloof tussen jou binnewêreld en buitewêreld oorbrug. Hoe beter ek myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat die dinge is wat ek nie wil sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense het. Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken, hoe deursigtiger kan ek word en hoe naatloser kan ek begin leef.


As ek vir jou ‘n stukkie kerswas gee sal jy dit redelik maklik kan stukkend druk.

‘n Albaster sal moeiliker breek. Die sal jy met ‘n hamer moet stukkend slaan.

‘n Stuk marmer gaan ‘n aansienlik groter uitdaging wees, maar met ‘n skerp beitel en hamer sal jy ‘n merk kan maak.

Maar ‘n diamant is ‘n ander storie. As jy ‘n diamant wil vorm het jy uitsonderlike toerusting en vaardigheid in die hand van ‘n Vakman nodig.


Ons binnewêreld is soos ‘n rowwe diamant. Daaroor moet ons nie naïef wees nie. As jy dapper genoeg is om die ingewikkelde en uitdagende instrument van kennis oor jouself in die hande van ‘n Vakman oor te gee sal jy gou agterkom dat jy tegelykertyd bewus raak van gawes wat diep verskuil lê en waarvan jy dalk voorheen onbewus is. Beide die skadu en die gawe (of die drif en die deug - vice and virtue) is nodig om die diamant in sy volle glorie te laat skitter. Of soos iemand eenmaal gesê het: Everybody wants to be a diamond, but very few are willing to get cut.

69 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page