top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

‘n Seisoen vir Orgideë

ree

Ek is gaande oor blomme. Een van my grootste gunstelinge is orgideë. Ek verstom my altyd aan die eenvoud daarvan. Dikwels net die enkele steel met ‘n paar perfek ontwerpte replikas van mekaar.

 

‘n Ruk gelede kom ek af op hierdie gedig van Julian Muller oor ‘n geel orgidee wat hy op ‘n dag in ‘n supermark in Nederland gekoop het.

 

 Geel Orgidee – Julian Muller

 

Vyf weke gelede het ons jou by Albert Heijn gekoop.

Vyf weke van vrolike geel in ons voorkamer.

Een vir een het die blommetjies bruin geword en afgeval.

Nou is daar nog 'n paar bittereinders,

Maar ook hulle tyd het aangebreek.

En dan, wat maak ons dan met die plant?

Na die park? Nee hy sal dit nie oorleef nie.

Vir iemand gee? Nee, ook nie, want wie weet of dit ooit volgende seisoen sal blom. En wie het soveel liefde om die groen plantjie vir 'n hele somer te versorg sonder om sekerheid te hê dat dit weer gaan blom?

Al wat oorbly, is die asblik.

Hoe vreeslik - sulke skoonheid wat vir vyf weke soveel plesier gegee het en dan asblik toe.

Maar dit was waarskynlik die kweker se idee.

'n Plant wat ge-recycle moet word.

Dit moet blom, plesier gee en dan moet dit sonder meer weer kompos word.

Een siklus en klaar.

Een lewe.

Net een lewe.

En ek? Één vraag: Het ek geblom toe ek moes?

God, wat lewe is en lewe gee, help my om die verbygaandheid van myself en alles om my te aanvaar.

Help my om nie permanent te wil wees nie;

om nie 'n hoër doel te soek nie;

om vreugde daarin te vind dat ek in u sitkamer,

of sommer in u kombuis mag blom.

Ek weet my hier wees gee vir U blydskap.

Help my om die paar mense wie se paaie ek vandag kruis, ook bly te maak.

 

Daar is iets in hierdie gedig wat my diep aangryp, maar daar is ook ‘n ander perspektief moontlik.

 

In sy gedig fokus hy op die vervlietendheid van sy orgidee met net een lewensiklus. As ‘n mens orgideë ken, weet jy dat ‘n orgidee vir baie jare kan leef en dat ‘n orgidee eintlik minimale sorg en net ‘n sekere stel omstandighede nodig het om te kan groei en om jaar na jaar te blom en te floreer, maar die blomseisoen van ‘n orgidee is nie altyd voorspelbaar nie, net soos ons mense.

 

‘n Paar weke gelede, aan die begin van die wintervakansie, is ek besig om my vier orgideë water te gee voor ek met vakansie vertrek. Ek dink aan die vorige groeiseisoen toe net twee van hulle geblom het en sien dat net een van die vier op die stadium besig is om ‘n blomstingel te vorm.

Ek dink by myself dat ek dalk hierdie vier ook ‘n “change of scenery” moet gee – soos vir myself – en skuif hulle na die badkamer waar daar vir ‘n groot deel van die dag hitte en lig is. (So terloops, al wat ‘n orgidee eintlik nodig het, is water een maal per week, waar die plant se wortels eers heeltemal deurdrenk word en al die water daarna weer afgegooi word, sodat die plant in ‘n week se tyd heeltemal “uitdroog”, baie lig, maar nie direkte son nie en verkieslik ‘n warmer hoekie.)

 

Toe ek terugkom na die vakansie was my verbasing groot: al vier het ‘n nuwe uitloopsel vir ‘n blomsteel gevorm!

Ek het dadelik aan hierdie aanhaling van Alexander Den Heijer gedink: “When a flower doesn't bloom you fix the environment in which it grows, not the flower.”

 

Dalk voel jy dat jy bietjie in jou groei gestagneer het en nie blom soos jy wil nie. In plaas daarvan om hoop te verloor, of jou spreekwoordelike geel orgidee in die asblik te gooi, gaan sit dalk iewers en dink wat jy in jou “omgewing” kan verander, wat die unieke plant van jou siel ten diepste nodig het, sodat sy ook ‘n nuwe blomstingel kan maak.

 

Dit vra toewyding om orgideë en siele met liefde te versorg, weekliks water te gee, seker te maak dat die omgewing ideaal is en in te gryp as daar ‘n ander plan gemaak moet word, maar as die blomme eers begin oopgaan, is die beloning groot en gee dit vir baie lank baie vreugde. Mag hierdie die begin wees van ‘n nuwe blomseisoen vir die orgidee van jou siel.

 

©️ Marina van der Linde 2025

 

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page