Woorde wat die afgelope tyd voortdurend by my bly is hierdie frase wat iemand eenmaal aan Trevor Hudson gesê het: “We do not learn from experience. We learn when we reflect on experience.” Dit laat my ook dink aan Socrates se bekende woorde: “The unexamined life are not worth living”. Daar lê baie wysheid in hierdie woorde.
Elke dag gebeur daar eindelose dinge met ons. Natuurlik maak nie alles ‘n impak op ons nie, maar daar is beslis deur die loop van elke dag dinge wat gebeur wat ons op een of ander manier affekteer. Dan praat ek natuurlik nog nie oor die buitengewone, uitskieter gebeure wat ‘n groot en permanente effek op ons lewens het nie.
Tog kan ek deur die wonderlikste of die verskriklikste ervarings in die lewe gaan, as ek nie gaan sit en sin maak van wat gebeur nie, gaan dit my nie help om as mens te groei nie. Miskien is dit die groot onderskeid tussen mense wat die lewe meer op die oppervlak leef en mense wat die lewe dieper leef: mense wat die lewe dieper leef reflekteer oor die lewe.
Om oor die lewe te reflekteer kan baie vorme aanneem. Ek kan oor dit wat gebeur het skryf of praat of nadink. Ek kan probeer om sin te maak van wat gebeur het en vir myself al die moeilike vrae vra. Vrae soos: Waarom het ek opgetree soos ek het? Waarom sou iemand anders moontlik kon kies om so op te tree? Wat was die effek van dit wat gebeur het? Hoe wil ek kyk na wat gebeur het en watter perspektief kies ek? Wat vra dit van my? Hoe wil ek daarop reageer? Watter soort mens kies ek om te word, te midde van en ten spyte van die gebeure? En dan vra ‘n reflekterende lewe natuurlik dat ek dit wat gebeur het integreer in my binneste, sodat dit in die skatkamers van my siel tot wysheid kan groei.
En as ek dit nie doen nie, wat dan? ‘n Mens se onderbewussyn is soos dryfsand. As ek nie aan die einde van ‘n dag of ‘n ervaring daaroor reflekteer nie, word dit deur die dryfsand van my onderbewussyn ingesluk terwyl ek slaap. Jy sal dalk saamstem dat ‘n mens na ‘n nag se slaap sukkel om sekere nuanses of emosies of detail van ‘n situasie te herroep. Sommige van hierdie dinge wat potensiaal gehad het om my te laat groei en ‘n groot invloed op my te hê, verdwyn vir altyd en ek kan nie weer toegang tot dit kry nie. Ander dinge sak af en gaan lê in die donkerste hoeke, van waar dit my onsigbaar regeer. (Carl Jung praat van die Skadu.) En nog ander dinge gaan lê en wag en broei en kom dan later in my lewe na vore en eis om aandag, dalk selfs in kontekste en tye wanneer ek dit die minste kan bekostig.
Wanneer ek erns maak met my lewe en daaroor reflekteer, kan ek my ervarings integreer en het ek makliker die belewenis dat my lewe voor God en saam met God geleef word en dat God deel is van al die detail van my lewe.
Mag ons dapper genoeg wees om te leer om reflektiewe mense te word wat bereid is om dieper as die oppervlak te gaan.
Comments