top of page
Writer's pictureMarina Strydom

'n Klein sakrament


Ons samelewing het ons gekondisioneer dat die lewe oor die groot momente gaan, die spesiale dae, die “high days and holidays”. Natuurlik is hierdie soort dae baie belangrik en altyd bakens waarna ons uitsien, ook omdat dit die monotone aard van die alledaagse vir daardie dae deurbreek en aan ons bevestig dat dit ‘n voorreg is om te lewe.


Maar daar is ook ‘n ander kant. Kom ons noem dit die “sakrament van die alledaagse”. Dit is die besef dat die gewone alledaagse heilig en belangrik is, wat maak dat ons nie wag vir die spesiale dae om die spesiale eetstel uit te haal nie; wat maak dat ons op ‘n gewone Vrydag ‘n bottel sjampanje oopmaak; wat maak dat ons op ‘n gewone Woensdag ‘n paar kerse aansteek en die mense in ons lewe aan God wy.


Ons is geneig om groot oomblikke van die lewe te vier en liturgieë daarvoor te ontwikkel, soos geboorte, die huwelik en die dood. Maar wat van die klein momente? Wat van ‘n gebed of ‘n eenvoudige ritueel van toewyding wanneer ek in die kar klim of voor ek begin opruim of wanneer ek met die hond gaan stap of wanneer beurtkrag begin en eindig? Dit is die oomblikke waaruit die gewone lewe bestaan en dit maak saak. Om erkenning te gee aan God in die momente van die alledaagse verander my hele lewe in ‘n klein sakrament en so word al my dae heilig.


Dalk is een van die groot dilemmas dat ons gekompartementaliseerde lewens die polsslag van ons lewe van God geskei het. Meer as 95% van ons lewe sal as “alledaags” beskryf kan word en dit is ook hoe dit hoort. Dit is daar waar ons lewe gebeur.


Ons kom dit nie eers agter nie, maar daar is hele dele van ons lewens waar ons totaal onbewus van God leef. God is daar waar jy in die vergadering oor ‘n begroting baklei. God is daar waar jy in die spitsverkeer sit en stoom. God is daar wanneer jy na ‘n lang dag in die donker by die huis kom en as gevolg van beurtkrag, nie jou gunsteling storie kan kyk om te ontspan nie.


Dalk kan ons weer begin om aan God erkenning te gee in alle aspekte van ons lewe en die perseptuele kompartemente of skeidsmure, wat verwydering tussen ons en God en ons lewens bring, afslaan.


Douglas Mc Kelvey het ‘n boek geskryf met die titel “Every Moment Holy” en dit is vol liturgieë vir die alledaagse lewe.


Hier is sy "Liturgy for the Ritual of Morning Coffee":


Meet me, O Christ

in this stillness of morning.

Move me, O Spirit,

to quiet my heart.

Mend me, O Father,

from yesterday’s harms.

From the discords of yesterday,

resurrect my peace.

From the discouragement of yesterday,

resurrect my hope.

From the weariness of yesterday,

resurrect my strength.

From the doubts of yesterday,

resurrect my faith.

From the wounds of yesterday,

resurrect my love.

Let me enter this new day,

aware of my need and awake

to your grace,

O Lord.

Amen.


So terwyl jy dalk aan jou koppie koffie teug, bid hierdie woorde en vra ook sommer dat die Here jou sal help om in die gewone dinge van hierdie dag van Hom bewus te wees. Veral ook in daardie minder aansienlike momente waartydens jy nou nie juis trots is op jouself nie.



15 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page