Self-bewustelikheid is ‘n kardinale deel van die kontemplatiewe lewe. Ek kan nie met ‘n dieper spirituele bewussyn leef rakende God, ander mense, die lewe en die huidige oomblik, as ek nie met self-bewustelikheid leef nie.
Geen wonder nie dat beide Socrates (470 – 399 VC ) en Teresa van Ávila (1515 – 1582) verklaar het dat self-kennis die eerste en noodsaaklike treë is op die pad na wysheid.
Daar is ‘n baie groot verskil tussen om selfbewus te wees en om met self-bewustlikheid te leef. As ‘n mens selfbewus is, is jy op sekere vlakke so bewus van jouself dat jy nie gemaklik tussen ander kan optree nie. Dit gaan gewoonlik met ‘n sekere mate van sosiale ongemak gepaard en kom nie uit ‘n diep en meer volledige selfkennis nie.
Self-bewustelikheid is amper die teenoorgestelde. Self-bewustelikheid beteken dat ek myself al dieper en meer volledig begin ken. Dat ek ‘n baie duidelike en realistiese prentjie van myself ontwikkel, waar ek my foute, my skadugedrag, my swakhede en so meer, laag vir laag al duideliker sien, maar waar ek terselfdertyd meer en meer bewus word van my unieke gawes en vermoëns, waar ek begin agterkom wat ek het om aan die wêreld te bied en wat die beste weergawe van myself kan wees.
Self-bewustelikheid vra dat ek myself voortdurend waarneem en begin bewus word van wat ek voel, dink en doen, hoe ek optree teenoor mense om my – veral die mense saam met wie ek leef, en wat die effek van hoe ek is en optree of hulle is.
Aan die een kant vra self-bewustelikheid dus ‘n interne bewussyn oor wat binne-in my gebeur. Aan die ander kant gaan self-bewustelikheid oor die effek wat ek op ander mense het.
In hierdie opsig sou ‘n mens dan kon sê: Self-bewustelikheid is om voortdurend bewus te wees van wie ek is, waar ek is, tussen wie ek is en wat die effek van my gedrag op die mense om my is.
Self-bewustelikheid is iets wat geoefen moet word en hoe meer ek daarin geoefen raak, hoe fyner begin ek myself waarneem en hoe meer raak ek bewus van wat binne-in my gebeur, van hoe ek praat en optree en van wat die effek daarvan op ander mense is. Op die pad van self-bewustelikheid is daar nie pryse nie, want hoe meer ek hierdie pad loop, hoe fyner word my waarneming en hoe duideliker sien ek myself raak.
As ek aan self-bewustelikheid dink, dink ek altyd aan die Franse nagereg met die naam mille feuille, of "’n duisend lagies”. Elke lagie is ‘n uitnodiging tot ‘n volgende.
Stel jou die scenario voor: ‘n man klim in ‘n baie vol hysbak en sy telefoon lui. Met moeite kry hy die foon uit sy broeksak gehaal en almal wag dat hy die foon dooddruk. Hy doen dit nie. Hy antwoord die foon en praat luidkeels met die persoon aan die ander kant. Toe die hysbak oopgaan gee hy op geen manier erkenning aan die res van die mense in die hysbak nie, maar forseer homself deur die groep mense tot hy buite is en totaal onbewus wegstap. Hierdie is ‘n skitterende en blatante voorbeeld van ‘n gebrek aan self-bewustelikheid.
Maar die meeste van die dinge wat ons doen is nie so blatant en voor die hand liggend nie. Dit is meer subtiel. Sommige van ons is juis nie so onbeskof of onnadenkend nie. Ons is weer “te goed” en besef nie dat ons met hierdie gedrag potensieel net so skadelik is vir die mense om ons nie (Later meer hieroor).
As ek nie al meer groei in self-bewustelikheid nie, is daar ‘n werklike kans dat ek met hoe ek is en optree baie skade aanrig in my verhoudings en nie leef as iemand wat al meer God se teenwoordigheid tussen mense inbring nie.
Dalk kan ons elkeen vandag net een tree gee in die rigting van dieper self-bewustelikheid.
As jy vandag alleen is, dink aan jou laaste interaksie met iemand anders en hoe daardie persoon jou moontlik beleef het.
As jy vandag by iemand anders is, vra dan: Wat is die effek van wat ek in hierdie oomblik doen op die persoon of persone om my?
En so, lagie vir lagie, word ons meer self-bewustelike mense.
©️ Marina vd Linde 2024
Comentários