top of page

Met 'n lamp in die hand


Ek was nog altyd gaande oor Sheila Cussons. Wat my aanbetref was daar nog nie weer iemand wat die seisoene en getye van menslikheid en ons mistieke verbintenis en smagting na God in Afrikaans so kan verwoord soos sy nie. In die afgelope week kom ek weer op hierdie gedig van haar af:


Pandora


Jy verwyder die donker

as kinders bang is

bondel dit in die hangkas

en sluit die deur toe

sit by die bed tot

angste wegswymel in slaap

en jy nie meer langer

die beswerende priesteres

hoef te speel nie

maar eerlik en magteloos

die donker in die oog kan kyk.


Ek was al dikwels daar. Ek vermoed jy ook. Na buite besweer ek met my mond alles wat donker en swaar is. Maar later, wanneer die nag haar donker kombers oor alles trek, voel die donker dinge van die lewe soms soos ‘n reuse skeur in die aarde en jy probeer met alle mag van die rant af wegbly.


Natuurlik voel ons soms magteloos. Natuurlik voel ons soms oorweldig. Natuurlik is die uitdagings van die lewe en realiteit soms net te veel. Elkeen van ons sal dan anders daarop reageer. Sommige van ons raak bakleierig en moeilik en projekteer ons eie vrese op die mense om ons deur hulle ‘n lewe te lei. Ander van ons onttrek en gaan staan baie ver en beroof so onsself en ons mense van ons teenwoordigheid. Nog ander probeer inderdaad die donker besweer deur ‘n taai heuningkwas oor die lewe te trek en so positief en optimisties te wees oor dit wat duidelik nie so rooskleurig is nie dat ons amper giftig raak.


Dalk is die uitnodiging om nie elke keer in een van hierdie verdedigingsmeganismes te verdwaal nie, maar om te besef dat al voel dinge soms hoe donker, God ons ook daarin vind. Psalm 139:12 verwoord dit die beste: “Maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”


God self is die lig, al voel dit hoe donker in of om my. En ek kan staan op die rand van daardie afgrond met ‘n lamp in die hand sonder om te vlug of te skree of te maak of die afgrond nie daar is nie, want Hy is die lig wat skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.


9 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page