top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Met die skalpel in die hand



Ek weet nie van een mens wat nie ten diepste in vreedsame en harmonieuse verhoudings met ander mense wil leef nie. Trouens glo ek dat dit God se droom is vir alle mense. Soos Trevor Hudson dit stel: “God calls us by name to play our part in making this universe a more harmonious, friendly and life-giving place for all, wherever we are.” Hierdie woorde resoneer dadelik met my, maar ongelukkig kan ‘n mens ook goedkoop vrede en kamma harmonie skep, daar waar ‘n mens maar net maak asof daar vrede en harmonie is, terwyl dit nie regtig in ‘n spesifieke situasie aanwesig is nie.


Soms dink ons dat ons taak as gelowige mense is om dinge maar net onder die mat in te vee en ‘n pleister van vrede en harmonie oor alles te plak, glimlag op te sit en te hoop die diepliggende kwessies of probleme gaan vanself weg. Ongelukkig gaan niks wat onder ‘n mat ingevee word vanself weg nie. Trouens, dit lê daar onder die mat en gis en stoom en fermenteer en ontaard met verloop van tyd in monsters wat later sommer self onder die mat uitkruip en enige skyn van vrede of harmonie voor ontbyt verorber.


Scott Peck skryf dat om by egte vreedsame en harmonieuse verhoudings uit te kom moet ‘n mens eers bereid wees om te erken dat dinge bolangs maar baie kunsmatig en oppervlakkig kan wees. Om by egte vrede en harmonie uit te kom vra baie eerlike – en soms selfs ongenaakbare – gesprekke. Dit vra dikwels baie pyn en konflik en gekneusde ego’s. Dit vra dat ons sal kies om nie die ongemaklike en ongesonde dinge van ons verhoudings en dinamika met mekaar, te probeer wegsteek en te maak of dit nie bestaan nie. Dit vra dat ons mekaar met groot respek en waardigheid hanteer terwyl ons dinge deurworstel.


Deel van God se prosesse van lewe is dat God dikwels soos ‘n chirurg met ‘n skalpel werk, waar ons elke nou en dan ‘n sekere mate van pyn en ongemak moet trotseer, voor ons by heelheid en gesond wees kan kom. Hy werk met groot sorg en heilige respek, omdat hy weet hoe pynlik hierdie soort prosesse is en doen alles in Sy vermoë om ons te help om te herstel na die “operasie”. Hierdie soort prosesse is vir niemand lekker of maklik nie, maar daarsonder sal ons nie by egte vreedsame en harmonieuse verhoudings uitkom nie. Egte verhoudings kan nie met voorgee gekoop word nie.


Mag ons elkeen dapper genoeg wees om so te leef dat ons nie terugdeins van dit wat gevra word om by egte vrede en harmonie te kom nie.



24 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page