Ek het Woensdag oggend teruggekom na 10 dae in Israel en Jordanië.
Een van die baie dinge wat my opgeval het, was die doodsheid van godsdiens. En nie net een geloof se godsdiens nie: almal – die Jode en die Moslems en beslis ook die tradisionele Christene. Dalk verskil jy van my, maar ek is al baie lank oortuig dat die konserwatiewe, tradisionele Christenkerk van vandag eintlik maar net die plaasvervanger vir die Ortodokse wetsgeleerdes van Jesus se tyd geword het.
Dink bietjie daaroor: geïnstitusionaliseerde godsdienstige sisteme – ongeag van watter geloof dit is - word gekenmerk deur vrees, verpligting, skuld en skaamte. As jy nou wil sien hoe mense se siele doodgaan, voer vir hulle hierdie giftige konkoksie van vrees, verpligting, skuld en skaamte.
Interessant genoeg is hierdie vier dinge, vrees, verpligting, skuld en skaamte, ook die dodelike kenmerke van “abusive” en toksiese verhoudings. Die sielkunde praat van “FOGS” (fear, obligation, guilt and shame).
Daar waar vrees, verpligting, skuld en skaamte hulle yskoue doodse kloue om ons harte en siele vasklem, kan niemand lewe nie. Vrees, verpligting, skuld en skaamte skep zombies.
Die eerste uitnodiging is dus om dit nie net in ‘n mens se lewe en verhoudings raak te sien nie, maar dit ook aan jouself te erken. Om jou millimeter vir millimeter daarvan te distansieer is een van die dapperste dinge om te doen – en om dan ook te vertrou dat die Here jou nie sal los in die proses wat hy jou van die doodsheid hiervan begin bevry nie.
In die Evangelie van Jesus Christus (en gaan kyk maar) is daar geen vrees, verpligting, skuld en skaamte nie. Dit is presies waarvan Jesus ons kom bevry. Om die waarheid te sê: ek is oortuig dat waar iemand besig is om vrees, verpligting, skuld en skaamte in te span om iemand anders te beheer, is daardie persoon beslis nie besig met die Evangelie van Jesus Christus nie, want Jesus bring lewe, vryheid, bevryding, respek en herstel.
Mag ons die genade hê om dit net eers raak te sien.

Comments