
In Pinkstertyd, wanneer ons weer dink oor die werk van die Gees, besef ek dat ons geneig is om maklik die werk van die Gees te beperk om in te pas by ons eie idees van wat die Gees in en deur ons lewe kan doen.
Is daar ‘n kans dat jou idee van die Gees te beperk is? Dat jou idee van die Gees deur vasgestelde dogmatiese idees ingeperk word? Sê nou God is baie ruimer, spandabelrig, uitspattig en selfs “roekeloos” met die Gees as wat ons dink?
Soms dink ek ons glo dat God soos ‘n apteker met die Gees werk: hy meet net presies die regte hoeveelheid van die Gees af - nie ‘n milliliter meer nie - en verpak dit dan in piepklein botteltjies met duidelike etikette op wat dan net aan spesifieke heilige mense gegee word. Ek vermoed ons sal verbyster wees as ons besef hoe graag God die Gees gee…
In 1 Korintiërs 2:9 skryf Paulus:
“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”
en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”
Hierdie vers roep by my die beeld op van ‘n gasheer of gasvrou wat gereed maak vir ‘n fees. Sy kan nie wag dat ons moet sien hoe mooi alles is nie. Hy kan nie wag om dit vir ons te wys nie. Maar dit is nie iets wat net vir eendag wag nie. Dit is iets wat nou gebeur, die oomblik wanneer die Gees ons bewussyn, ons verstaan en ons harte verlig. Hierdie vers vertel van verwondering, van misterie, van God se groter prentjie en van die verrassende aard van hoe God in ons lewe wil werk.
Waar jy nou in jou lewe is, is nie ‘n vaste punt of ‘n bestemming nie. Jou lewe is voortdurend aan die skuif en daar kan nog geweldig baie in en deur jou lewe gebeur.
Wie weet wat het God nog gereed gemaak vir jou?
Wat word nog vir jou lewe vorentoe beplan?
Hy is steeds besig met meer as wat ons kan bid of dink…
“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”
en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”
Mag ons elkeen toelaat dat God se droom wat deur Jesus Christus ontvou het en deur die Gees verder geneem word, steeds meer en meer deur ons lewe ontvou.
Comments