top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Hallo uit Japan! Wabi-sabi: Nie perfek nie, maar beeldskoon

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Updated: Feb 14, 2024

Wabi-sabi gaan daaroor om met ‘n dankbare hart te leef, om skoonheid in onvolmaaktheid raak te sien en eerder te streef na uitnemende maniere van doen as na perfeksie.

Wabi-sabi help ons om te besef dat daar regtig baie min dinge in die lewe is wat volmaak is. Volmaaktheid bestaan meestal in oomblikke en is amper nooit permanent nie. Daarom help wabi-sabi ‘n mens om in die huidige oomblik bewus te wees, omdat ‘n mens dan besef dat die lewe as sulks verganklik en vervlietend is.


Dit wil ons juis daarom aanmoedig om die onopgesmukte en egte dinge van die lewe raak te sien en te waardeer. Om nie met ‘n kritiese hart te leef wat alles en almal wil uithaal omdat hulle nie aan jou standaarde voldoen nie, maar om baie geduld en aanvaarding te hê vir die onvolmaakthede van ander, omdat jy op ‘n diep, egte en nederige manier ook bewus is van die gebreke in jouself.


Ten diepste is dit eintlik maar waaroor Matteus 7:3-5 gaan: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”

Ek wonder sommer hoe oop is ‘n mens regtig daarvoor om raak te sien dat jy ander baie maklik vir hulle swakhede en onvolmaakthede sal veroordeel, terwyl jyself hoegenaamd nie bereid is om te sien dat jy ook nou nie eintlik die toonbeeld van perfeksie is nie.


Mense wat dink dat hulle selde foute maak en dat die probleem altyd by ander lê, is eintlik onuithoudbaar om mee saam te leef. En dikwels is ‘n mens self daardie mens... Mense wat egter bewus is van hulle skerp kante en wat insien dat hulle eintlik glad nie volmaak is nie, is baie makliker mense om mee saam te leef. Hulle teenwoordigheid is ruim, hulle laat ander mense veilig voel en hulle blote teenwoordigheid maak dat ‘n mens sommer meer verdraagsaam en aanvaardend wil wees.


Wabi-sabi moedig ons aan om veral nie in ons verhoudings teenoor ander na perfeksie te streef nie, maar te fokus op die skoonheid van wat eg en outentiek is, om die eenvoudige, onopgesmukte en natuurlike elemente van die lewe te waardeer.
 
In haar baie bekende boek “The art of imperfection” nooi Brené Brown ‘n mens om stelselmatig die volgende dinge in jou lewe te laat gaan:
1.    laat gaan wat mense van jou dink;

2.    laat gaan opgepofte perfeksionisme;

3.    moenie jouself op allerhande maniere verdoof om magteloosheid te probeer afweer nie;

4.    laat gaan die gevoel dat daar altyd te min is;

5.    laat gaan die behoefte aan sekerheid;

6.    laat vaar vergelyking;

7.    laat gaan konstante uitputting as 'n statussimbool en om jou selfwaarde in produktiwiteit te vind;

8.    laat vaar konstante angs as 'n leefstyl;

9.    laat vaar voortdurende selftwyfel en gevoelens van verpligting; en

10. laat gaan dit om "altyd in beheer" te wil wees of ten minste in beheer te probeer voel.


Hoe meer ons hierin kan groei, hoe groter is die kans dat ons as heelhartige mense kan lewe. Ek vermoed dat ‘n mens maar gaan sukkel om hierdie soort dinge op jou eie reg te kry en dat ‘n mens beslis “eksterne”, of eerder “interne”, hulp nodig. Hier praat ek natuurlik van God se Gees wat gaan moet help!

Deur wabi-sabi te beoefen, kan ons meer en meer met nederigheid, tevredenheid en egtheid leef en leer om dit wat beeldskoon is op onverwagte plekke vind. Mag jy vandag met ‘n sagter hart en sagter oë na jou wêreld, die mense om jou en jouself kyk en besef tussen hoeveel rykdom en skoonheid jy leef.

©️ Marina vd Linde 2023





6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page