top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Hallo uit Japan! Shoshin: Altyd ‘n beginner

Updated: Feb 14, 2024




Dit verwys na 'n houding van openheid, gewilligheid en om nie in vooropgestelde idee vasgevang te wees nie. Om selfs op 'n gevorderde vlak altyd bereid te wees om weer te leer, net soos 'n beginner sou. Die woord “shoshin” is 'n kombinasie van “sho”, wat "beginner" of "aanvanklik" beteken, en “shin”, wat "verstand" beteken.
 
Om met “shoshin” te leef is die ideale teenmiddele teen die hubris en geslotenheid van dink dat ‘n mens weet en teen die arrogansie van om te dink dat niemand jou meer iets kan leer nie. ‘n Mens kan maklik so gewoond raak aan 'n sekere manier van wees en doen, dat jy nie oop kan wees om nuwe idees of benaderings te ondersoek nie.
 
In die narratiewe terapie word daar graag gepraat van die “not knowing” posisie. Dit beteken dat ek elke keer wanneer ek met iemand te doen het, nie vooraf dink dat ek weet wat gebeur het of waarom iemand gedoen het wat hy of sy gedoen het nie, maar dat ek op ‘n oop, nie-veroordelende en nie-wetende manier voor iemand sal staan. Dat ek met ander woorde nie dadelik reg is vir aanval of verdedig nie, maar dat ek eers sal vra: “Verduidelik vir my...” of sal sê “Ek is onseker oor wat hier gebeur het. Help my asseblief om te verstaan”.
 
Saam met die gedagte dat ons dink ons “weet”, is ons ook geneig om aan aan “bestemmingswaan” te ly. Ons dink maar elke nou en dan: as ek maar net hierdie sekere bestemming bereik, sal dit met my soveel beter gaan.  As hierdie jaar net eers verby is… As my kinders net uit die skool is… As ek net kan aftree… En so het ons voortdurend een of ander nuwe bestemming waarheen ons op pad is.
 
Ons moet nooit dink dat ons ooit iewers arriveer nie. Die lewe, en soveel te meer die spirituele lewe, was nog nooit ‘n bestemming nie. Dit is altyd ‘n reis wat ek elke dag bereid moet wees om voor te begin.  Meestal is ons verhouding met God eerder een tree vorentoe en drie treë terug.

 

Daarom help die beeld van die spiraal in ons verhouding met God ons veel meer as die beeld van ‘n stel trappe met ‘n beloning aan die bopunt.

 

Die spiraal metafoor wil my help om elke dag nuut te kyk na myself en die lewe, om te besef ou uitdagings duik dikwels in nuwe gedaantes op en nooi my om verder te groei, om te besef as ek gister nie die beste voorbeeld van myself was nie, beteken dit nie ek is ‘n mislukking nie – daar was redes daarvoor – en daarom delf ek in die redes in, en begin net weer.

 

Deel van my persoonlike lewensreël is hierdie woorde van Rainer Maria Rilke:

“If the Angel deigns to come,


it will be because you have convinced her, 


not by your tears, 


but by your humble resolve 


to be always beginning: 


to be a beginner.”



 

Mag die gesindheid van “shoshin” al meer in jou groei,

mag jy vandag die moed hê om weer te begin,

en om daarna elke dag ‘n beginner te wees.


©️ Marina vd Linde 2023




4 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page