top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Hallo uit Japan! Shikata ga nai: Dit is wat dit is

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Updated: Feb 14, 2024

“Shikata ga nai” is ‘n Japannese lewensbeginsel wat reeds integraal deel is van die Christendom, maar baie van ons sukkel maar om dit reg te kry. Dit beteken basies “dit kan nie verhelp word nie” of “daar is geen alternatief nie”.


Iemand in my binnekring sal baie gereeld iets sê soos : “It is what it is”, of “Dit gaan wees wat dit gaan wees” of “What to do?” Natuurlik kan dit baie pessimisties of fatalisties klink, maar die dieper betekenis is dat ek nie beheer oor alles het nie en dinge soms net moet aanvaar en kyk hoe dit uitspeel.

Klaarblyklik het die Beatles ook iets hiervan verstaan toe hulle die liedjie “Let it be” gesing het, waarvan die refrein sê: “Let it be, let it be, let it be, let it be,Whisper words of wisdom, let it be.”


In die Afrikaanse kultuur is daar natuurlik daardie bekende spreekwoord wat sê: ”Laat Gods water oor God akker loop.” Dit kom oorspronklik uit Nederlands en lui as volg: “Gods water over Gods akker laten lopen”. Die oudste betekenis van hierdie spreekwoord verwys na ‘n onverskillige en sorgelose ingesteldheid, waar die boer nie bekommer het oor oorstromings op sy land nie en nie die damwal sou herstel nie. Die spreekwoord het met verloop van tyd ‘n ander betekenis ook gekry, naamlik om nie te probeer om die dinge wat net God kan beheer, te beheer nie.


Ek weet nie van jou nie, maar vir die meeste van ons is dit maar moeilik om te weet wanneer om op te hou om te tob en te probeer beheer, wanneer om God te vertrou met die verloop en afloop van ‘n spesifieke situasie en te laat gaan. Die feit is: daar is regtig nogal heelwat dinge in die lewe waaroor ‘n mens min tot geen beheer het.


Natuurlik is dit waar dat ek moet verantwoordelikheid neem wanneer dit gevra word, dat ons elkeen medeskeppers van realiteit is, dat een persoon se keuses en aksies, altyd ‘n baie groot effek op die mense om daardie persoon het en dat ek die grootste agent van verandering in my lewe is. Maar tot op ‘n punt…


Die beginsel van “shikata ga nai” gaan daarom nie oor ‘n fatalistiese of pessimistiese houding waar ‘n mens nou maar net alles los om sy gang te gaan nie, maar eerder dat wanneer ek van my kant af gedoen het wat ek kon en nie meer die uitkoms van ‘n situasie kan bepaal of kan beheer wat gaan gebeur nie, is dit letterlik buite my beheer en moet ek vertrou dat die lewe sy gang sal gaan op maniere waarmee ek nie kan inmeng, verklaar, voorspel of beheer nie. So leer ‘n mens om selfs in uiters uitdagende situasies, vrede te ervaar en innerlike ekwilibrium te beleef, juis omdat ek weet dat ek nie kan bepaal wat die uitkoms gaan wees nie.


Dalk is die heel beste reaksie wanneer ek agterkom dat bekommernis en wroeging en ‘n desperate behoefte aan beheer, weer uit die kelders van my kop klim, om hierdie bekende woorde van Reinhold Niebuhr in die “Serenity Prayer” te bid:

 

“Here, maak my rustig genoeg om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie,

gee my moed om die dinge wat ek kan verander, te verander,

en gee aan my wysheid om die verskil te ken.”

 

En verder werklik te vertrou dat alles uiteindelik ten goede sal meewerk, selfs al lyk dit nie aanvanklik so nie (Romeine 8:28) en dat Julian van Norwich op die einde van die dag reg was toe sy gesê het: “All shall be well, and all shall be well and all matter of being shall be well.”

 

Mag die Here van vrede self, ten alle tye en op elke manier, vir ons vrede gee. Die Here bly met ons almal (2 Tessalonisense 3:16).


©️ Marina vd Linde 2023




10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page