top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Hallo uit Japan! Omoiyari: Om die ekstra myl te loop met fyn aanvoeling

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Updated: Feb 14, 2024

 In die Christendom verstaan ons wat dit beteken om die ekstra myl te loop. Dit is natuurlik afkomstig van Jesus se woorde in Matteus 5:41: “As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.”

 

Die konsep van omoiyari, neem die beginsel van om die ekstra myl te loop totaal na ‘n volgende vlak.

 

Kortliks sou ‘n mens kon sê dat omoiyari daaroor gaan om empatie en deernis in jou lewe en werk te verweef, met empatie en deernis van ander se behoeftes bewus te wees en selfs produkte te ontwerp wat empatie en deernis kommunikeer.

 

“Omoi” beteken om met sorg om te gee, terwyl “yari” die selfstandige naamwoord van die werkwoord “yaru” is, wat beteken om iets na iemand anders te stuur. Daar is ‘n verskil tussen dit wat ons as empatie en simpatie ken en omoiyari, naamlik dat omoiyari ‘n intuïtiewe kennis en verstaan impliseer van wat nodig is. Omoiyari verwag nie enige beloning of erkenning terug nie en daarom word daar nie veronderstel dat dit ook aan jou as die een wat omoiyari bewys het, terug bewys moet word nie.

 

Die ironie is dat as jy in ‘n samelewing leef, waar dit letterlik die waarde is waarvolgens mense leef en waar dit deel is van skole se leuses en op die ingang van metrostasies staan, gaan daar wel omoiyari aan jou bewys word – deur al die ander om jou – omdat dit die sosiale ooreenkoms en waarde is. Die persoon wat dus nie met omoiyari leef nie, sal ‘n vreemdeling wees en baie vinnig reggehelp word. Dit is dus deel van die Japanese se “so maak alle mense”. En waarom? Want aan die basis van omoiyari lê daar ‘n diep en heilige respek vir alles en almal.

 

Die dilemma met omoiyari in ons konteks is dat mense selfsugtig is en min van omoiyari verstaan. Dit is nie deel van ons samelewing se waardesisteem nie. Dit is wel deel van die Christelike waardesisteem, maar selfs in Christenhuise kan dit nie werk, waar net een van die twee lewensmaats met omoiyari leef en die ander een die persoon se goedheid uitbuit of misbruik nie. In die omoiyari-verstaan is so iets ondenkbaar!

 

Ek vermoed jy gaan sukkel om my verkeerd te bewys, as ek sê dat ons soort samelewing hoegenaamd nie met omoiyari leef nie. Al sê die statistiek dat meer as 70% van Suid-Afrikaners Christene is, is ons oor die algemeen ‘n klomp selfsugtige blik*&%s. Geen wonder dat ‘n mens voel jy moet jouself maar eerder beskerm teen die mense om jou nie!

 
Een van die definisies van omoiyari waarna gereeld verwys word, is die een deur die kulturele antropoloog Lebra, wat omoiyari beskryf as “die vermoë en gewilligheid om te voel wat ander voel, om die plesier of pyn wat hulle ondergaan, namens hulle te ervaar, en om hulle te help om hul wense te bevredig, sonder dat iemand nodig het om dit vir die persoon te sê.” Die historiese antropoloog Akanuma sê dat omoiyari is om ander se gevoelens te raai en noukeurig aandag aan hul gevoelens te gee, en te aanvaar wat met ander gebeur het (of sal gebeur) asof dit met myself gebeur het (of sal gebeur). Sosiale sielkundige Ninomiya (1991) definieer omoiyari as vrywillige gedrag tot ander se voordeel.
 
Die algemene aanname onderliggend aan al hierdie definisies is dat omoiyari vrywillig is en dat mense hoë waarde daaraan heg om om op so ‘n manier op te tree en saam met ander te voel. Daarom het  omoiyari intuïtiewe begrip nodig. Kazuya Hara van die Meikai Universiteit in Japan definieer omoiyari dus as 'n intuïtiewe begrip van ander se gevoelens en ervarings, wat ons sal laat besef wat om te doen of wat om nie aan ander te doen nie.
 
Omoiyari bestaan dus uit affektiewe/gevoelsaspekte, soos altruïsme, simpatie en empatie en ‘n bahavioristiese/gedragsaspekte, naamlik pro-sosiale gedrag.
 
In praktyk beteken dit:
dat jy bekommer is oor hoe dit met iemand gaan of bekommerd is oor die onwenslike situasie waarin die persoon hom of haar bevind en daarom vir die persoon bid;
dat jy iemand bemoedig, aanmoedig en inspireer;
dat jy iemand help op ‘n praktiese manier soos wat daardie persoon nodig het om gehelp te word (en nie soos jy dink die persoon gehelp moet word nie);
en om die persoon te ondersteun op maniere wat daardie persoon nodig het om ondersteun te word.
 
Al vier hierdie aspekte is deel van omoiyari en veronderstel ‘n fyn intuïsie en aanvoeling.
 
Dit is natuurlik presies wat Flippense 1:9 ook sê: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.”
 
Stel jou voor wat kan in ons lewens en verhoudings gebeur wanneer almal met omoiyari begin leef. Wanneer ons almal dit inoefen tot ons intuïtiewe verstaan vir mekaar vlymskerp is.
Mag omoiyari ons meer en meer inspireer om mense te wees wat die ekstra myl loop met begrip en fyn aanvoeling.

©️ Marina vd Linde 2023




2 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


Les commentaires ont été désactivés.
bottom of page