Die konsep van roeping is algemeen bekend in die Christendom, maar vir die meeste gelowiges problematies. Ek kom veral in my werk agter dat baie gelowiges geen idee het wat hulle roeping is nie. Dalk is die rede waarom ons so sukkel met roeping, omdat die meeste van ons dink dat roeping een of ander groot en monumentale ding is wat ek moet gaan doen. Ons kry hierdie idee natuurlik by tekste soos Jesaja 6:8-9: “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek! Stuur my!’ “
Sommige mense ervaar wel so ‘n eksterne roeping. Maar vir die meeste van ons is roeping nie veronderstel om iets ekstern te wees nie, maar iets intern. Roeping is veronderstel om meer te gaan oor wie jy is en om ‘n sekere soort mens in jou realiteit te wees.
Die Japanese konsep van Ikigai kan ons hier geweldig baie help.
Die verwesterde weergawe van Ikigai is gebaseer op die idee dat daar vier komponente is wat 'n mens moet voltooi om ikigai te bereik.
Hierdie vier komponente is as volg:
• Iets waarvan jy hou;
• Iets wat die wêreld nodig het;
• Iets waarmee jy goed is; en
• Iets waaroor jy betaal kan word.
Dit is nie wat ikigai is nie. Die wanopvatting wat oor ikigai voorgehou word, is dat 'n mens net ikigai en ware geluk kan bereik deur aan al vier voorwaardes te voldoen, so as jy iets doen waarvan jy hou, maar dit genereer nie vir jou geld nie, dan het jy nie ikigai bereik nie. Dit is nie waar nie.
Jou ikigai:
• is nie iets waaruit jy geld moet maak nie;
• hoef nie iets te wees wat die wêreld nodig het nie;
• is nie iets waarmee jy hoogs vaardig hoef te wees nie; en
• is nie iets wat jy noodwendig moet liefhê nie.
Jy kan die gepopulariseerde venn-diagram oor Ikigai 'n verwesterde weergawe van ikigai noem, maar die waarheid is dat dit 'n wanvoorstelling van ikigai is. Jou ikigai lê dus nie in die middel van daardie onderling verbindende sirkels nie. Hierdie verkeerde interpretasie van Ikigai word toegeskryf aan Marc Winn wat ‘n blogplasing geskryf het oor die onderwerp nadat hy op ‘n dag na ‘n Ted Talk daaroor geluister het en probeer het om sy eie weergawe daarvan saam te stel.
Die vier vrae in die raamwerk is nie vrae wat Japannese hulself vra wanneer hulle hul ikigai(s) oorweeg nie. As jy hierdie Venn-diagram aan 'n inheemse Japannees sou wys, sou hulle dit nie as ikigai herken nie.
Dit gaan nie oor geld maak nie.
Ikigai is nie die strewe na professionele sukses of finansiële vryheid nie. Die meeste Japannese sal nie geld maak met ikigai assosieer nie. Sukses en die opbou van rykdom kan 'n neweproduk van jou ikigai wees, maar dit sal nie die fokus wees nie.
Dit is nie wat die wêreld van jou nodig het nie.
Ikigai gaan nie oor wat die wêreld van jou nodig het nie. Ikigai lê op die gebied van gemeenskap, familie, vriendskappe en in die rolle wat jy vervul. Wanneer jy jou ikigai nastreef, is jy nie daarop uit om die wêreld te red nie. Dit gaan meer daaroor om kontak te maak met die mense wat betekenis aan jou lewe gee – jou familie, vriende, medewerkers en gemeenskap.
Dit gaan nie oor waarmee jy goed is nie.
Jy hoef nie goed in iets te wees om jou ikigai te vind nie. Ikigai kan 'n baie eenvoudige daaglikse ritueel of die beoefening van 'n nuwe stokperdjie wees. Ikigai gaan meer oor groei eerder as bemeestering.
Dit gaan dikwels nie oor wat jy liefhet nie.
Ikigai kan iets wees waarvoor jy lief is of waaroor jy passievol is, maar jy kan ikigai vind in areas van jou lewe wat jy die minste sou verwag. Ikigai gaan meer daaroor om jou waardes uit te leef en om betekenis en doel in die daaglikse lewe te vind, ongeag watter beperkings jy mag hê.
Ikigai is 'n veelvlakkige konsep wat Japannese al beter leer verstaan soos hulle lewe en ouer word. Dieselfde behoort waar te wees van dit wat ons as Christene roeping noem. Japannese gebruik die woord terloops in gesprek en verstaan die betekenis en nuanses daarvan, maar maak dit nie een of ander groot lewenstaak of bereikbare doelwit, soos wat ons met roeping gedoen het nie.
Ken Mogi sê hieroor: “Japannese het nie 'n grootse dryfkrag nodig om aan die gang te bly nie, maar vertrou meer op die klein rituele in hul daaglikse roetines.”
Die probleem met die interpretasie van ikigai as die “Lewensdoel Venn Diagram” is dat dit die illusie skep dat ikigai 'n verhewe en formidabele doelwit is om te bereik. In baie opsigte is Ikigai die teenoorgestelde hiervan – om die vreugde van klein dingetjies te omhels, om in die hier en nou te leef, te reflekteer oor mooi herinneringe uit die verlede en die soort gemoedstoestand te hê waarvan uit jy 'n gelukkige en aktiewe lewe kan bou. Dit gaan nie oor professionele sukses of entrepreneurskap nie.
Die skoonheid van ikigai is dat jy meer as een ikigai kan hê. Dit verander soos jy groei en die belangrikste deel van ikigai is die prosesse wat 'n mens se innerlike potensiaal kweek. Jy ontdek jou ikigai na selfrefleksie, so eintlik het jy reeds jou ikigai, jy moet net vir jouself die tyd en ruimte gee om dit te vind.
Mieko Kamiya, 'n psigiater, skrywer en vertaler, het die toonaangewende werk oor ikigai geskryf, naamlik “Ikigai ni Tsuite (On the Meaning of Life).” Ongelukkig is haar boek nog nooit in Engels vertaal nie. En tragies genoeg is sy nie goed bekend in Japan nie, het geen bekendheid buite Japan nie en is sy op die relatiewe jong ouderdom van 65 in 1979 oorlede.
Mieko Kamiya skryf onder andere in “Ikiagi ni tsuite (On the Meaning of Life)”: “Volgens die woordeboek beteken ikigai "krag wat nodig is vir 'n mens om in hierdie wêreld te lewe, geluk om te lewe, voordeel, doeltreffendheid." Daar is twee maniere om die woord ikigai te gebruik. Wanneer iemand sê "hierdie kind is my ikigai," verwys dit na die bron of teiken van die ikigai, en wanneer 'n mens ikigai as 'n gemoedstoestand ervaar.”
Noriyuki Nakanishi skryf in “Ikigai in older Japanese people": “The word ‘ikigai’ is usually used to indicate the source of value in one’s life or the things that make one’s life worthwhile (for example, one might say: ‘‘This child is my ikigai’’). Secondly, the word is used to refer to mental and spiritual circumstances under which individuals feel that their lives are valuable. There is a difference between ikigai and the sense of well-being. Ikigai is a more concerned with the future: for example, even when one feels that one’s present life is dark, possessing a desire or goal for the future allows one to feel ikigai.Ikigai gives individuals a sense of a life worth living. It is not necessarily related to economic status.Ikigai is personal; it reflects the inner self of an individual and expresses that faithfully.It establishes a unique mental world in which the individual can feel at ease.”
Dalk kan die konsep van ikigai jou help om jou eie verstaan van roeping te verruim, deur dit nie te sien as iets daar ver wat jy iewers moet bereik nie, maar iets wat jou elke oggend laat opstaan, wat reeds deel van jou lewe is en wat jou lewe vul met sin en betekenis. Selfs iets so eenvoudig soos om die hoenders kos te gee of te beplan wat daagliks geëet gaan word of om tyd met jou gunsteling mens te spandeer of om ‘n dag sonder ander se agendas te hê, kan op ‘n sekere punt in jou lewe jou ikigai wees.
Of soos Howard Thurman sê: “Don’t ask yourself what the world needs: ask yourself what makes you come alive, and then go do it. Because what the world needs is people who have come alive.”
©️ Marina vd Linde 2023
Comments