top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Hallo uit Japan! Hara Hachi Bu: ‘n volhoubare manier van eet

Writer: Marina StrydomMarina Strydom

Updated: Feb 14, 2024

Ek spot altyd en noem hierdie tyd van die jaar “Die tyd van die groot eet”. Alles waarvan jy deel is moet in November en vroeg Desember afgesluit word (en dit net vir hoogstens ses weke) deur te eet! In my kringe alleen word daar in die volgende 10 dae 6 keer op groot skaal geëet. Nie dat die eet as sulks die probleem is nie. Trouens is ek ‘n baie groot voorstander daarvan om die lewe behoorlik te vier en te geniet en ook baie lief daarvoor om allerhande feestelikhede te beplan.

 

Ek is redelik oortuig dat baie van ons alledaagse manier van doen veel meer deur die Amerikaanse kultuur, as deur Afrika of Europese kultuur beïnvloed word. Dit wil lyk asof ons al meer eet soos Amerikaners en die geite en giere volg wat ‘n mens in daardie deel van die wêreld sou aantref.

(Hierdie is natuurlik my eie opinie en op geen navorsing gebaseer nie, so jy is welkom om van my te verskil. Laat ek ook net sê: Ek is nie ‘n dieetkundige of dokter nie, praat dus met kenners as jy anders dink. Volgens die meeste professionele mense is daar ‘n klein persentasie van mense met gesondheidsprobleme wat gewigsimplikasie het.)

 

Volgens navorsing deur die USDA verbruik die gemiddelde Amerikaanse man meer as 2 500 kalorieë per dag, met voedselinname wat ‘n hoogtepunt bereik wanneer hy in sy 40's is, met 'n gemiddeld van 2 692 kalorieë. Vir vroue geld dieselfde tendens. Die gemiddelde Amerikaanse vrou verbruik 1 766 kalorieë. Vroue in hul 40's verbruik meer as enige ander ouderdomsgroep met 'n gemiddelde daaglikse inname van 1 879 kalorieë. Volgens die Mayo Clinic Calorie Calculator benodig 'n gemiddelde grootte 40-jarige vrou net 1 500 tot 1 700 kalorieë per dag om 'n gesonde liggaamsgewig te handhaaf, tensy sy die meeste dae van die week aan fisiese oefening deelneem. Vir mans is 1 900 tot 2 150 kalorieë nodig om 'n gemiddelde liggaamsgewig te handhaaf.

 

Daar is nou een ding waarby ‘n gemiddelde, relatief gesonde mens, nie sommer kan verbykom nie: As jy daagliks meer eet as wat nodig is gaan jy groter wees. As jy meestal minder eet, gaan jy gewig verloor of jou gewig handhaaf.

 

Ek vermoed ek dat baie van ons se verhouding met kos nie gesond is nie. Waarom is dit so? Ek vermoed dat dit meer te doen het met mense se gemoedstoestand, as met ons behoefte aan kos. Ons probeer dikwels die leegheid in onsself vol eet, die frustrasies met die lewe wegeet en dit wat hartseer of pyn veroorsaak verdrink of wegeet, omdat ons eintlik glad nie weet hoe om met ons diepliggende en onverwoordbare kwesbaarheid om te gaan nie.

 

Om te weet wanneer ‘n mens genoeg gehad het en nie meer verder moet eet nie, is iets wat ons as gelowige mense weer meer kan aanleer. Heelwat van ons het dalk nodig om weer sensitief te raak vir ons lywe en te weet hoe dit binne-in ons voel wanneer ons nie meer honger is nie.

 

Die Japannese het hierdie kuns vervolmaak met “Hara Hachi Bu”: om net te eet tot jy 80% vol is. Die inwoners van Okinawa is deel van daardie interessante groep mense wat in “Blou Zones” woon, waar ‘n mens die meeste mense op aarde aantref wat met hoë kwaliteit lewens geweldig oud word. Die beginsel van “Hara Hachi Bu” kom van Confusius af en telkens voor die mense van Okinawa begin eet sê hulle vir mekaar “Hara Hachi Bu”, as ‘n herinnering dat hulle net sal eet tot hulle 80% vol is.

 

Hulle kry dit dan reg deur kleiner hoeveelhede kos in kleiner borde en bakkies te skep (letterlik), deur hulle kos stadiger te eet en deur net te fokus op die kos en nie op allerhande ander dinge nie (met die gevolg dat hulle agterkom wanneer hulle 80% vol is). Die resultaat – omdat hulle dit die meeste van die tyd doen – is dat hulle almal ‘n gesonde gewig handhaaf, gesonder is en langer leef. In ander dele van Japan, China en Indië is hierdie beginsel ook deel van hulle kultuur en tref ‘n mens ‘n spreekwoord aan soos: “Agt dele van ‘n vol maag sorg vir die mens, die ander twee sorg vir die dokter”.

 

Daar is te veel van ons wat op hierdie vlak deur skuld en skaamte gemotiveer word en die vraag is waarom? Skuld en skaamte is uiters destruktief vir mense wat wil floreer.

As deel van ‘n geïntegreerde spiritualiteit kan ‘n mens nie anders as om te kyk na jou verhouding met kos nie, en dalk is dit presies waarmee “Hara Hachi Bu” ons in hierdie tyd van die jaar wil help: om onsself nie van kos te ontneem nie, maar net heelwat minder van alles te eet, sodat ons op alle vlakke ‘n bietjie ligter deur die lewe kan gaan, gemakliker kan voel, gesonder kan wees en ‘n meer volhoubare verhouding met kos en ons lywe kan hê.


©️ Marina vd Linde 2023




 
 
 

Comentários


Os comentários foram desativados.
bottom of page