top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Groei is 'n morsige store

Wanneer ‘n mens in die tuin werk besef jy gou dat daar nie eintlik ‘n manier is dat jy nie met grond en modder te doen te kry nie. Groei is maar ‘n morsige storie.


Op dieper vlakke van ons lewe is dit waarskynlik die kompleksiteit en die uitdagings van die lewe wat ons laat groei. Daar is natuurlik diegene wat sal stry en sê dat ‘n mens nie hoef swaar te kry om te groei nie, maar ek moet sê dat ek nog nie een geestelik volwasse mens teëgekom het wie se pad net maanskyn en rose was nie.


Richard Rohr leer ons dat daar twee dinge in die lewe is wat die potensiaal het om ons te laat groei: We grow through great love and great suffering”.

Of dit groot liefde of groot swaarkry is wat voor jou staan is eintlik nie relevant nie. Die vraag is of jy oop genoeg is dat God jou daarin kan ontmoet sodat jou lewe daardeur getransformeer word?

Die verskil tussen die tipe groei wat uit groot liefde en groot swaarkry kom is dat groot liefde se groei so half vanself gebeur, terwyl groot swaarkry se groei ‘n baie pertinente keuse is, want groot swaarkry kan jou ook die spoor laat byster raak as jy nie willens en wetens kies om daardeur te groei nie.


Uitdagende tye in ons lewe kan nogal soms voel soos die einde van ‘n pad, maar wanneer ons na verloop van tyd terugkyk sal ons dikwels sien dat dit van die mees vrugbare tye in ons lewe was en die begin was van nuwe fases van groei en lewe.


Christine Caine se woorde is baie waar: “Sometimes when you're in a dark place you think you've been buried, but you've actually been planted.” Dalk bevind jy jou nou ook soos ‘n saad in planttyd, onder die grond in die donker. Dit is ‘n moeilike proses aangesien ‘n mens nie kan weet of kan sien waar dit gaan uitkom nie, maar van een ding kan ons seker wees en dit is dat ons as God se kinders nie self in beheer is van hierdie groeiprosesse nie en dat God ons nie sal versaak nie. Die vraag is of ons bereid is om God regtig ten volle te vertrou, dat Hy daardie dinge in ons lewe wat voel of ons begrawe word, sal aanwend om ons te laat groei?


Alhoewel daar verskeie katalisators in my lewe kan wees wat groei inisieer, is die proses van groei eintlik maar iets wat van binne af moet kom. Hierdie woorde help ons om iets van hierdie proses te verstaan: “If an egg is broken by outside force, it is the end of life, but if an egg is broken by inside force it is the beginning of life. God se proses met my lê NOOIT buite myself nie. God verander realiteit “inside out”, en Hy begin altyd by my.”



10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page