As jy hier lees is jy waarskynlik iemand wat probeer erns maak met ‘n verhouding met God en ‘n dieper lewe. Maar nou wonder ek, is daar dalk net sekere aspekte van jou lewe wat by hierdie soeke ingesluit word en indien wel, waarom?
Wanneer laas het jy God betrek by jou dink oor uitdagings by die werk, die korrupsie in regerings, jou kinders se minder wyse besluite, daardie ander kar wat jy wil koop, die gewig wat jy moet verloor en hoe jy dit gaan regkry, die reuse dilemma van rasse kwessies in ons land, jou worsteling met die seksuele aspek van jouself, lewenskostes wat duurder word, die massiewe hoeveelheid gesinne wat in die greep van huishoudelike geweld verkeer, jou aftrede, jou gesondheid en die regte medikasie, die subtiele veranderings wat jy in jouself raaksien, die chaos in die wêreld?
Om die kuns van ‘n onderskeidende manier van leef aan te leer, vra dat ek heel eerste sal verstaan dat daar geen deel van my lewe of realiteit is waarin God nie teenwoordig is nie.
Psalm 139 skryf so aangrypend daaroor:
7 Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
8 Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9 Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10 ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
God wil nie net op ‘n afstand geraadpleeg word as dit oor die sogenaamde spirituele of dieper of selfs godsdienstige dinge van die lewe gaan nie. God wil intiem en verweefd betrokke wees in alles van my lewe.
Dit is dalk die grootste rede waarom ons sulke gefragmenteerde lewens leef en sukkel om al die aspekte van ons lewe te integreer: God is nie deel van alles nie.
Dalk is jy nog besig om die spreekwoordelike koek van die lewe in snye te verdeel en God se naam op een van die snye van die koek skryf. God kan nie ‘n sny in die koek van my lewe wees nie, want God is die meel. Sonder Hom wat die hele koek deurtrek, gaan dit maar ‘n baie plat en kluitjierige storie wees. (En ja, ek weet mens kry resepte vir meellose koek met allerhande dinge wat die meel moet vervang!)
God wil nie ‘n aspek van my lewe wees en net vir sekere aspekte van my lewe geraadpleeg word nie. God wil deel wees van alles…
Trevor Hudson sê: “Discernment is bringing the whole of our lives into harmony with God’s everpresent activity, wherever we are and whatever we are doing.” So leer ek met verloop van tyd die kuns om onderskeidend te leef en my ganse lewe in die lig van God se teenwoordigheid te leef. Dit is wat Immanuel beteken – God by my – in alles…
Comentários