Een van die verhale waarop daar in Heilige Week, die dae voor Paasfees, gefokus word, is die verhaal van Jesus en die reiniging van die tempel. Ons lees daar hoe Hy na die tempel toe gaan en ‘n verskriklike ontdekking maak: die tempel, wat mense moes help om nader aan God te kom, het ‘n plek geword wat die swaar las van godsdienstige minderwaardigheid op mense laai en die hele geestelike motief van wat by die tempel moes gebeur, verander het.
Soos ons weet het die Jode diere-offers gebring as ‘n teken van hulle toewyding aan die Here of as ‘n teken van skuldbelydenis. Baie Jode, wat in die gebiede buite Jerusalem gewoon het, het daagliks – en veral in Paastyd - na die tempel gekom. Ook ‘n hele aantal nie-Jode wat die Joodse geloof aangeneem het.
Die meeste mense moes daar by die tempel ‘n offerdier koop. Die Joodse geloofsleiers het besluit dat daar ‘n sekere soort geldeenheid in die tempel gebruik moet word, naamlik Tiriese shekel. Daarom was daar ‘n yslike geldwisselaar bedryf in die voorhof van die tempel aan die gang waar ‘n mens die geldeenheid wat jy tot jou beskikking gehad het, teen ‘n stewige kommissie, vir Tiriese shekel kon ruil. Die tempel owerhede het geweet dat die mense meer gevra word as die billike koers, maar dit was tot hulle voordeel.
Hierdie area was ook die plek waar nie-Jode kon aanbid, so stel jouself die chaos voor: mense wat kibbel oor geld en offerdiere, skape en beeste en duiwe in hokke en alles wat daarmee saamgaan en die “agente” wat mense probeer lok en oortuig om by hulle te kom koop of geld te ruil. ‘n Babelse verwarring, om die minste te sê – met min plek vir ‘n ontmoeting met God.
Baie mense wat die storie lees, gebruik die verhaal van die reiniging van die tempel as die motivering vir hulle eie woede of vir die motivering van die gebruik van geweld en sê dinge soos: “Sien, Jesus het ook kwaad geword”, maar dit is hoegenaamd nie die punt van die storie nie.
‘n Mens kan jou voorstel hoe Jesus by die tempel aankom, sien wat gebeur en doelgerig eenkant gaan sit en alles dophou, terwyl hy ‘n sweep sit en vleg. Hierna staan hy op en begin intensioneel geldwisselaars se tafels omgooi, hokke van skape en beeste oopmaak en die diere en duiwe vrylaat. Die handelaars en tempelpersoneel was beslis buite hulleself van woede. Waar kry hierdie man die reg om dit te doen?
Tog het baie van die gewone mense ondersteun wat Jesus gedoen het, omdat dit hulle was wat uitgebuit is. Juis daarom sou die tempelwag nie daar en dan vir Jesus arresteer nie, uit vrees vir die mense. Hierdie was wel die gebeure wat die katalisator was van Jesus se inhegtenisneming.
Wat Jesus hier kom doen is nie ‘n politieke handeling of ‘n tentoonstelling van Goddelike woede nie. Ten diepste sien Hy hoe dit wat veronderstel was om versoening, harmonie en ewewig in mense se verhouding met God te bring, mense net nog verder van God af wegdryf.
Deur hierdie radikale handeling probeer Jesus op die diepste moontlike vlak dit wat die ewewig kom versteur omverwerp.
Dalk is dit presies wat Jesus nou nog in ons lewens kom doen. Ons pak nog steeds ons eie interne tempelpleine vol geldtafels en offerdiere en handelaars en verkoop op ‘n daaglikse basis dele van onsself en ontheilig dinge in onsself wat veronderstel is om ons nader aan God te bring, maar ons eintlik van God af weghou.
Daar is dikwels soveel interne wanorde, soveel ontheiliging in onsself van dit wat heilig is en gebrek aan begrip vir die heiligheid van ons een kosbare lewe, dat ons dit dalk soms nodig het dat Jesus die geldtafels omkeer, die dinge waarmee ons handel dryf uit hulle hokke bevry en ons interne tempelplein kom omverwerp.
Dalk moet ons juis in hierdie dae voor Paasfees iets bid soos: “Here, kom keer my geldtafels om, bevry die diere waarmee ek myself verkoop, draai my ou maniere van doen op die kop, skep maar ‘n bietjie interne chaos, sodat ek in die verslae stilte daarna kan ontdek hoe die ewewig en harmonie tussen my en U weer herstel word”.
Comentarios