top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Dit is so

Een van die dinge waarmee ons mense die heel meeste sukkel is om realiteit te sien vir wat dit is. Ons is die enigste wesens op aarde wat oor die vermoë beskik om ‘n realiteit in ons eie koppe te skep wat nie regtig bestaan nie en dan onsself te oortuig dat dit die volslae waarheid is.


Hier dink ek aan iemand wat hom- of haarself in ‘n situasie bevind waar dit regtig sleg gaan, waar hy of sy misbruik word en nie met respek behandel word nie en al meer van sy of haar siel verloor, maar aanhou sê dat hy of sy eintlik baie bevoorreg is. Of ek dink aan iemand wat die teenoorgestelde doen: daar lê soveel pragtige en mooi dinge voor die persoon, met soveel potensiaal, maar hy of sy hou aan glo dat die lewe hard en swaar is en vind baie min vreugde in die lewe of die mense en verhoudings in sy of haar lewe.


‘n Mens noem hierdie verskynsel kognitiewe dissonansie. Dit is wanneer dit wat in jou kop gebeur en dit wat in realiteit gebeur nie in lyn is met mekaar nie.


Hieroor het Søren Kierkegaard iewers gesê: “There are two ways to be fooled. One is to believe what isn't true; the other is to refuse to believe what is true.”


Ek glo dat ons almal graag wil uitkom by die potensiaal wat aan die ander kant van “dit hoef nie so te wees nie” wag, maar die nou poort waardeur ek moet stap is om te erken dat dinge is soos dit is. Of soos Tobie Muller sê: “Dit is ‘n kragtige besef: Dit hoef nie so te wees nie. En dit begin met: Dit is so.”


Eers wanneer ek gaan sit met die volle verhaal voor my, eerlik, sonder verdedigingsmeganismes en dinge sien vir wat dit werklik is, dat ek deur die nou drukgang van realiteit kan begin stap. Eers wanneer ek begin doen wat gedoen moet word, die moeilike dinge in die gesig staar, my eie aandeel in realiteit erken, sekere maniere van dink en doen prysgee en toelaat dat God my in realiteit ontmoet, dat ek hoegenaamd die eerste tree op ‘n werklik andersoortige pad kan gee.


Om realiteit te sien vir wat dit is, is bitter moeilik, maar niks gaan verander tot ek nie erken dinge is soos dit is nie. Mag jy die moed hê om deur daardie nou drukgang te stap en dinge te begin sien soos dit is, sodat God jou in realiteit kan ontmoet om van daar af een tree op ‘n slag ‘n nuwe pad te kies.



5 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page