Ek luister ‘n ruk terug hoe Trevor Hudson vertel van ‘n vriend van hom, wat as rehabiliterende alkoholis mense gaan besoek wat in die wurggreep van alkoholisme vasgevang is.
Op pad daarheen weet hy die heeltyd nie wat hy vir die mense gaan sê nie. Hy stop later by hulle huis en besef dat hy nog steeds nie weet wat om te sê nie. Hy is al voor die voordeur, maar die woorde ontbreek nog steeds. Toe hy enkele minute later by die man en vrou in die deurmekaar kombuis staan is die woorde wat by sy mond uitkom: “Dit hoef nie so te wees nie”.
Toe hy die storie vertel het hierdie woorde dadelik my hart geraak. Dit is waarskynlik een van mees hoopvolle sinsnedes wat ‘n mens kan hoor. “Dit hoef nie so te wees nie.” Om die waarheid te sê dink ek daardie woorde is die hart van die Evangelie. Die woord Evangelie beteken mos doodeenvoudig “goeie nuus”. En is dit nie goeie nuus wanneer ‘n mens hoor en besef: dit hoef nie so te wees nie? Daardie spanningsvolle verhouding hoef nie so te wees nie. Jou uitgemergelde staat van lewe hoef nie so te wees nie. Die konstante konflik hoef nie so te wees nie. Die chaos in jou lewe hoef nie so te wees nie. Jou konstante bekommernis hoef nie so te wees nie. Die skuld en skaamte waarmee jy saamleef hoef nie so te wees nie. Die verwyte en bitterheid hoef nie so te wees nie.
Niks van die gebroke dinge in ons lewe hoef so te wees nie, maar – en hierdie is die moeilike deel – die Here gaan nie met ‘n towerstaf opdaag en soos ‘n goeie fee al my wense op ‘n magiese manier aan my skenk en my lewe in ‘n oogwink verander nie.
Ek gaan, met die Here se hulp, moet werk daarvoor. Ek gaan alles in die stryd moet werp om die koers waarop ek is te verander en ‘n ander soort mens te word. Dit is ontsettende harde werk. Dit vra toewyding en onverskrokkenheid en daaglikse oorgawe en keuses, terwyl ek daaraan werk sodat dinge nie so hoef te wees nie. En terwyl ek dit doen, doen die Here wat Hy doen.
Daar is nie een van ons wat nie regdeur ons lewe worstel met diepliggende gebrokenheid en ongesonde dinge in onsself nie. Dit is hierdie dinge wat oor en oor na vore kom in allerhande kontekste van ons lewe. Hoe dieper ek God se Gees toelaat om met my vormings- en transformasie proses besig te wees, hoe dieper gaan die dinge wees waarvan ek tot bekering moet kom.
Hierdie proses is uiters ongemaklik, frustrerend en meermale meer pynlik as wat ek verkies.
Daar is geen narkose of verdowing by bekering betrokke nie. Dit gebeur ook nie onbewustelik nie. Geen bekering vind op ‘n pienk wolk plaas nie, want ek word telkens gekonfronteer met die lelike, donker, ongesonde en stukkende goed in my lewe wat God aanhoudend wil omskep en omvorm.
Maar wanneer ek toelaat dat my donker hart, my platgeslane gees en my verwaarloosde siel elke dag weer tot bekering kom, kan ek begin meegee aan die werk van God se Gees en vind daar stelselmatig ‘n diepliggende interne verandering plaas.
Mag hierdie woorde vandag soos ‘n lig op jou pad begin skyn: Dit hoef nie so te wees nie.
Comments