Daar is baie min mense wat werklik gemaklik is met ongemak van enige vorm. Iets in ons probeer altyd by ‘n plek kom waar daar so min as moontlik ongemak in ons lewe is en dit is ‘n heel normale menslike reaksie.
En tog weet ons al te goed dat die lewe as sulks ons voortdurend in situasies dompel waar ons een of ander vorm van ongemak ervaar. Meestal is dit ‘n eksterne gebeure wat ‘n interne reaksie tot gevolg het. Die gebeure as sulks is nie so belangrik, as om te verstaan waarom ons op ‘n sekere manier daarop reageer nie. En dit is net hier dat die meeste mense van hierdie soort interne ongemak wegskram.
Die meer algemene reaksies op interne ongemak is om dit te ignoreer, dit af te maak as onsinnig of die ongemak te probeer verdoof op allerhande maniere, sodat ‘n mens tog nie daarvan bewus is nie. Die dilemma met hierdie soort reaksies is dat ons nooit leer om te verstaan hoekom ons reageer soos ons reageer nie en nog belangriker, dat ons nooit ons eie interne landskap leer ken nie.
Ons skram dikwels so weg van die ongemak dat daar hele dele van onsself is waarvan ons net nooit bewus word nie, omdat ons dit nie wil leer ken nie, met die gevolg dat wanneer ons die dag die werklik moeilike dinge moet trotseer, ken ons ons eie interne landskap so sleg dat ons verdwaal en glad nie koers kan vind nie.
Wanneer ‘n mens nie iewers in jou volwassenheid en middeljare (iewers tussen 35 en 65, sê die geleerdes) geleer het om die valleie en vlaktes en ongebaande paaie van jou binnewêreld te navigeer nie, hoe meer onwaarskynlik raak dit dat jy dit gaan ontdek en hoe meer ontoeganklik word daardie noodsaaklike diep dele van jouself.
Daarom is die oplossing om nie, wanneer jy agterkom jy ervaar ongemak of pyn van een of ander aard, te probeer om dit so vinnig as moontlik onder die mat in te vee nie, waar dit met verloop van tyd in monsters in die donker verander nie. Die oplossing lê eerder daarin om jou spreekwoordelike duikpak aan te trek, jou suurstofbottel op te sit, in die dieptes af te duik en te gaan ontdek wat regtig binne-in jou gebeur.
Om dus nie nie so vinnig as moontlik uit dit te probeer kom nie, maar om eers dieper in dit in te klim.
Ronal Rolheiser skryf aangrypend hieroor:
"If you can't get out of something . . . get more deeply into it.
Christ illustrated what that means in his prayer in Gethsemane. First he prayed that he might get out of it: "Father, let this cup pass from me." Then, when he couldn't get out of it, he got deeply into it. The result was the resurrection. Many resurrections, for us, lie in imitating Christ in this matter."
Ons word genooi om nie op die oppervlak te lewe nie, maar om dieper in ons eie lewens in te gaan en toe te laat dat die Here ‘n opstanding in ons bewerk.
Comments