top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Dieper as woorde


ree

Ons verstaan van God is deurslaggewend in ons verhouding met die Here. My Godsverstaan kan letterlik my verhouding met God maak of breek. Dit klink dalk vreemd, maar daar is aspekte van my verstaan van God wat “tot bekering” sal moet kom as ek by ‘n dieper en meer lewegewende verstaan van God wil uitkom.

 

Om my eie verstaan van God te dekonstrueer voel vir sommige mense “verkeerd” omdat ons glo dat my verstaan van God “God” is. Dit voel soos heiligskennis of “sacrilege”. Tog is dit belangrik dat ek iewers vir myself vra hoe ek regtig oor God dink.

 

Daar is nog baie gelowige mense wat vasgevang sit in ou, geykte en tradisionele sienings van God wat nie eers strook met die Christen Evangelie nie, en ons besef dit nie noodwendig nie. Persepsies wat ons doodgewoon as “slegte teologie” sou kon beskryf. William Paul Young sê slegte teologie is soos pornografie – daar is die idee van ‘n verhouding sonder om nabyheid, egtheid, kwesbaarheid en intimiteit te ervaar. Slegte teologie onteer God en maak van Hom iets anders as wat Hy regtig is.

 

Wanneer ons oor ons elkeen se Godsbeeld praat gaan dit nie oor reg en verkeerd nie en dit is nie ‘n poging om “die waarheid” vas te pen nie. Daar is maniere van dink oor God wat ons van God vervreem en wat eienskappe aan God toedig wat God nie toekom nie en die aard van wie God is, misken; en dan is daar maniere van dink oor God wat ons help om diep bewus te raak van die eenheid en harmonie met God, wat deur Jesus Christus moontlik gemaak is en eindelose lewensmoontlikhede oopsluit.


Karl Rahner het so sterk hieroor gevoel, dat hy gemeen ons moet vir 50 jaar ophou om die woord “God” te gebruik, want ons het die meeste van die tyd nie ‘n idee wat ons besig is om te sê nie.

 Barry van der Merwer vertel dat elkeen van ons ‘n belydende Godsbeeld het – daardie dinge wat ons oor God sê, wat dalk onder andere uit tipiese kerktaal of geykte formulerings bestaan, asook ‘n praktiserende Godsbeeld – die manier hoe ons regtig oor God dink waarvoor ons dalk nog nie woorde gevind het nie en wat al ons gedrag van onder af dryf.

 

In ‘n digitale meningsopname het ek op ‘n keer vir mense gevra om die vyf woorde neer te skryf wat hulle vir God wil gebruik. Die ses dominante woorde wat die meeste gebruik is, was almagtig, alomteenwoordig, liefde, Vader, genadig en heilig. Daar was ‘n klomp ander woorde ook. Sommige van hierdie woorde, veral die “groot 6”, sê nie noodwendig iets van ‘n persoonlike verstaan van God nie, maar van ‘n aangeleerde en voorgeskrewe manier van dink oor God wat dalk ontrafel kan word. Vir ander mense kan hierdie woorde tog ook getuig van ‘n diep verhouding en verstaan.

 

Wat is die beste woorde wat jy vir God sal gebruik?

Daar is meer bekende woorde soos “genadig”, “deernisvol” en “nie-veroordelend”. Daar is minder tradisionele woorde, soos “respekvol” of “welwillend”.

 

Daar is baie maniere hoe ons kan leer om oor God te praat wat kom uit ‘n dieper persoonlike verstaan en belewenis van God. Ek wil jou nooi om iewers oor hierdie naweek te gaan sit en net ‘n lys te maak van jou eie woorde, die woorde wat jyself sal gebruik om iets van jou eie verstaan en verhouding met God uit te druk. Probeer doelbewus wegstuur van die geykte woorde, soos die “groot 6” hierbo.

 

Ons woorde – ook ons woorde oor God – skep die werklikhede waarbinne ons leef.

 

©️ Marina van der Linde 2025

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page