top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Die rooi papawer

Updated: Oct 2


ree

Ek was einde Mei saam met 'n groep mense in Turkye – en wat ‘n belewenis en reuse voorreg was dit nie! Ek het daar weer besef, as jy iets van Jesus wil verstaan, moet jy Israel toe gaan, maar as jy iets van die eerste gelowiges en die vroeë kerk wil verstaan, moet jy Turkye toe gaan. Min mense besef dit, maar die grootste deel van die Nuwe Testament, na die Evangelies, speel in klein-Asië, of dan vandag se Turkye, af.

 

Iets waarvan ek deurlopend bewus was, is hoe geweldig swaar die eerste gelowiges gekry het. Vir nagenoeg 300 jaar is hulle van tyd tot tyd intens vervolg en soos diere gejag, totdat die vervolging uiteindelik in daardie tyd onder Konstantyn beëindig is. Soveel mense het hulle lewens op die wreedste denkbare maniere verloor, maar tog kon niks hierdie beweging van God se Gees deur die wêreld stuit nie.

 

Die een teks wat soos ‘n refrein in my hart gesing het in hierdie tyd was die aangrypende Markus 4:26-28:

“Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar.”

 

Ons mense speel natuurlik ook ‘n groot rol. Die saaier moet darem die saad op die land saai. Maar wat van daarvan gebeur is die mees ongelooflike misterie.

 

Dit was lente in Turkye en die rooi papawers het begin om hulle mooiste koppe uitsteek. Veral op pad na Laodicea het ek besef ons gaan vandag sowaar papawers sien. Rooi papawers is vir my persoonlik ‘n ryk en diep simbool. En toe ons by die eerste trap van Laodicea instap staan sy daar: een enkele papawer wat deur die rotse en ruïnes groei.

 

Vir my is dit die simbool van die lewe en hoop en krag van die Evangelie van Christus wat in die mees onwaarskynlike en swaarste omstandighede werk om lewe te bring op maniere wat ons nie dink moontlik is nie.

 

Mag jy vandag in jou binneste voel hoe jy met vertroue vashou dat dit God self is wat laat lewe en laat groei en mag daardie wete kwesbaar, maar vasberade, vol vertroue in jou opstaan soos ‘n enkele rooi papawer.

 

So terloops: Spaar solank, want volgende keer moet jy saamgaan Turkye toe...

 

©️ Marina van der Linde 2025

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page