top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Die roekelose God

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Paasfees is niks anders as die uitspattige, oordadige en oorvloedige tentoonstelling van God se liefde nie.


Wanneer ‘n mens iets van die aard van die soort liefde wat God tydens Paasfees oor ons wêreld kom uitgiet het verstaan, kan dit nie anders as om jou diep te raak en jou lewe vir goed te verander nie.


‘n Ruk gelede lees ek die woorde van Ronald Rolheiser wat so lui:

“No matter how many of God’s invitations we ignore, there will always be an infinite number of others. When we’ve gone through 39 days of lent without praying or changing our lives, there’s still a 40th day to respond. When we’ve ignored a thousand invitations, there’s still another one waiting. God is prodigal, so are the chances God gives us.”


In hierdie einste aanhaling van Rolheiser is daar ‘n frase wat my in my spore gestop het. “God is prodigal.” Ek weet nie van jou nie, maar ek het dadelik gedink die enigste konnotasie wat ek met die woord “prodigal” het is die verhaal van die “prodigal son” of die “verlore seun”. Nodeloos om te sê, het ek nie geweet dat “verlore” maar ‘n baie eng verstaan van die woord “prodigal” is nie.


Die woordeboek gebruik die volgende woorde om “prodigal” te vertaal:

Reckless, wasteful, extravagant, immoderate, excessive, irresponsible, lavish, liberal, unsparing, bountiful. Spending or using large amounts of money, time, energy and love in a way that is not very wise.


Om so te dink oor God se liefde verander my perspektief op HOE God liefhet radikaal.


God se liefde is roekeloos, verkwistend, buitensporig, onmatig, onverantwoordelik, weelderig, liberaal, onverbiddelik, oorvloedig.


Dit maak onmiddellik dat ons hierdie verhaal oor die verlore seun in Lukas 11 ‘n nuwe titel moet gee en dit eerder moet noem: “Die roekelose seun en die roekelose vader.” Die seun was wel roekeloos met sy geld en goed, maar die pa was roekeloos met sy liefde. Toe sy roekelose, spandabelrige en onverantwoordelike seun terugkeer, reageer die pa met roekelose, verkwistende, buitensporige, weelderige liefde.


En dit is presies wat Jesus deur die Opstanding in ons harte kom inpomp: ‘n eindelose stroom van sy roekelose liefde.


Die dilemma met ons mense is dat sommige mense ander mense se vrygewige liefde roekeloos hanteer. As ek God of ‘n ander mens se liefde roekeloos hanteer, sê dit dat ek ‘n mens sonder respek is vir dit wat heilig is. En daarom word sommige verhoudings giftig: party mense gee hulle liefde roekeloos, maar sommige reageer roekeloos deur net te vat en uit te buit en te misbruik. Roekelose liefde is in ons menslike verhoudings net heilsaam waar dit wederkerig gebeur. En dit is ongelukkig hoekom dit vir ons moeilik is om so radikaal lief te hê in ons verhoudings. Almal reageer nie op die gepaste manier op so ‘n enorme vrygewige liefde nie.


Stel jou voor wat ‘n ongelooflike plek die wêreld kan wees as elkeen van ons by God se roekelose liefde kan aansteek en geen mens uit eie-gewin optree of ander misbruik en uitbuit en disrespekvol met so ‘n heilige liefde omgaan nie?


Maar by God werk dit tog anders. Dikwels reageer ons op ‘n roekelose en disrespekvolle manier op God se liefde, maar hy maak nie sy hart toe nie.

Nooit nie.

Inteendeel, hy reageer op die Kruisiging met die Opstanding.


Mag hierdie roekelose, uitspattige, oordadige, oorvloedige Opstandingsliefde wat Jesus Christus vir die wêreld gebring het, jou op die diepste vlak moontlik raak en verander en mag jy iets verstaan van sy liefde wat geen einde het nie.



20 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


Os comentários foram desativados.
bottom of page